Tuesday, 5 October 2010

Lekkers, materiale en uitstappie

Wel, ek moet erken dat ek nie veel kwiltwerk gedoen het die laaste week nie. Lyk my dat tyd was baie skaars vir my - maar ek was wel besig met ontdekkings:

Ons het verlede week Turkish Delight gemaak. Na vele onsuksesvolle pogings, het ons op 'n resep af gekom waarmee ons gelukkig is. Ongelukkig het ek nie foto's geneem nie. Soos ek genoem het, ons het vele pogings aangewend, en by hulle het ek elke keer foto's geneem, net om teleurgesteld te word. Indien julle die resep wil probeer, kan julle dit hier kry. Dis die resultaat van ons harde werk:


Daar was baie meer in die boksie, maar ons het intussen heerlik gesmul aan die lekkerny. En dit was (en is steeds) lekker!!!

Die Brown Bag Quilt Contest is ook nou op volle dreef. Ek het Vrydag my materiale ontvang vanaf Brenda, my uitruil "partner". Sy het vir my hierdie lieflike materiale gestuur:


Hmmm....wat kan ek met hierdie materiale maak. Dis glad nie lelike materiale nie!!! Dalk miskien bietjie buite my gemaklikheid sone, tog is dit mooi drukwerk.  Ongelukkig het ek vergeet om foto's te neem van my materiale, wat ek aan Brenda gestuur het. Neem aan ek was te opgewonde om van die goed ontslae te raak :-)

Hierdie naweek het ons onself verbeel ons is Tarzan en Jane. Ons het saam met "Astrid" gaan stap in die berge. Ons het 'n wandelpad gevolg wat strek vanaf Petrin tot by Grand Rivier Noire (Great Black River). Ek het nie besef hoe (on)fiks ek is nie, en die staproete was vir my 'n uitdaging. Tog het ek en manlief die bul by die horings gepak, en ons het 'n heerlike dag gehad. Ons het 'n verskeidenheid plante groei gesien, soos hierdie palmboom;



asook 'n paar wilde diere, soos hierdie klein wilde varkie:

(hy en sy boetie was te vinnig vir die kamera, so ons het net die agterkant van die kleinding afgeneem)

asook hierdie papegaai/parkiet.


Die uitstappie het ons 7 uur geneem. Ons het nie die volle roete gevolg nie, want ons moes by die kruising, met die Black River, omdraai, sodat ons betyds terug kon wees om by ons motor uit te kom. Ons wou beslis nie die aand spandeer in die berge nie. Ons het darem vele kere gestop, en het ook 'n paar happies kos en drink goed ingeneem. Die moeilikste deel van die hele roete - vir my - was die "trappe" wat ons moes klim. Dis 'n baie steil afdraande, en dis opgebou met hout trappies, maar aangesien dit daardie oggend gereën het (ja, ons het in die reën begin stap) was alles vol modder en baie glad. Ek moes 'n paar keer aan bome vasklou, want anders sou ek gegly en geval het. Met die terugkom slag, het die grond begin uitdroog, en was die klim baie makliker. Ons was BAIE moeg toe ons uiteindelik die motor bereik het, en my bene het soos lood gevoel. Die uitsig was beslis die pyn werd.

Riviere Noire (Black Rivier)

Deel van die Gorges

(Julle kan op enige van die prente kliek om dit groter te maak)

Julle kan meer stories en foto's sien oor ons uitstappie, op "Astrid" se blog: Grandma's Red Needle

Tot volgende keer!

Monday, 27 September 2010

Natuur tonele en BOM

Ai, wat 'n lieflike naweek! Net 'n jammer dit was so kort!

Die weer begin sy warm strale uit steek, en daarmee saam begin ons die mooiste sonsondergange kry. Dis natuurlik een voordeel om op die tweede verdieping bly - hierdie prentjie kan jy nie mis nie, al wil jy:


Ongelukkig het die foto bietjie donkerder uitgekom as wat ek gehoop het. Wanneer die son hierdie kleur is, is ons hele leef area en kombuis oorspoel met rooi en oranje kleure. Dis te ongelooflik om te beskryf.

Ons was gister vir 'n kort rukkie strand toe. Dit was heerlik om weer  die seelug in te asem, en die wind in die hare te voel. Ons was nie baie lank daar nie - die strand was dig gepak, tog het ons dit gate uit geniet. Ek het 'n storie boek geneem, en lekker in die boom se skaduwee gelê en lees.  Die wind het bietjie gewaai, en natuurlik was dit die regte verskoning vir 'n klomp wind- en kite-surfers om hul talente ten toon te stel. Dis is die prentjie wat ons gesien het, wanneer ons uitgekyk het oor die waters (om beter te sien, kliek op die prentjie om dit groter te maak):


Intussen het ek aan Raggedy BOM blok 3 gewerk, en het dit hierdie naweek voltooi. Hierdie keer het ek nie probleme gehad met verkeerde naat toelatings nie - hahahahaha!


Wel, dit was my naweek. Hoop julle het ook 'n wonderlike naweek gehad.

Tot later!

Friday, 24 September 2010

Weg gee kompetisies

Wie van julle wil 'n GO! Cutter wen? Laat ek sien, hande in die lug ...
Die volgende persone bied jou die kans om 'n GO! Cutter te wen:

- Kaaren by The Painted Quilt
- Karen by Log Cabin Quilter
- Millie by Millie's Quilting

Opskud...

Saturday, 18 September 2010

Marbles en Kersfees

Ek moet sê dat ek voel redelik goed oor my vordering hierdie twee weke. Ek het ongelukkig nie so baie foto's om vir julle te wys nie, maar dit beteken nie die werk was nie minder intensief nie...

My tweede marble-kussing oortreksel is voltooi!!!



Die twee lyk tog te vrolik langs mekaar, of hoe? Ek het al die materiaal vir die derde kussing ontvang, en ek sal daaraan begin werk nadat ek die Kersfees kwilt voltooi het.

So gepraat van, hier is die voltooide bo-stuk.



Ek moet nou net die "toebroodjie" maak en dan dit kwilt. Ek wil iets ander probeer op hierdie projek in plaas van net "stitch in the ditch". Ek het reeds 'n idee oor wat ek wil doen, en het reeds begin voorberei daarvoor...Sal maar kyk hoe dit gaan.


Ek het myself ook ingeskryf vir die Brown Bag Quilt Contest. Ek is seker julle het al die logo op my kant paneel opgemerk. Ek het my swap partner se details gekry, en die pakkie is weggestuur. Ek is baie nuuskierig om te sien watter materiale ek gaan ontvang... Vir die van julle wat graag wil deelneem, of meer hieroor wil lees, kliek op die logo, wat jou na die blog inskrywing sal neem.

Dis dit vir eers.

Tot later!

Tuesday, 7 September 2010

Produksielyn

Vandag is net 'n "update" op al die projekte waaraan ek tans werk. Sommige se vordering is uitstekend terwyl ander projekte bietjie aandag nodig het.

Na al die drama verlede naweek, met al my naat toelatings wat nie wil saam speel nie, het ek baie hard gewerk om alles netjies te kry. My borduurwerk het miskien nog bietjie oefening nodig, maar ek is baie tevrede met hoe die BOM blokke uitgekom het. Ek het letterlik die hele week, na my laaste inskrywing, net borduurwerk gedoen. Dink dis tyd dat ek 'n "chance of scenery" uitoefen.

Hier is Raggedy and Friends Block 1



En hier is Raggedy and Friends Block 2


Nou is ek reg vir Raggedy and Friends Block 3, wat om-en-by die 20ste vrygestel sal word.

Verder is ek besig met my kussing oortreksel nommer 2. Ek is klaar met al die borduurwerk en die voorkant is afgewerk. Ek wag net vir my materiale om die "ruffle" te maak, dan is hierdie dame afgehandel. Ek het gister die kennisgewing gekry dat my materiale by Doeane is (sien vorige inskrywing), maar ek is nie seker wanneer ek die kans gaan kry om by Port Louis uit te kom nie. Sal my manlief vra of hy dit kan gaan afhaal.

Hier is die "werk-in-proses" kussing oortreksel 2/12





Ek het ook intussen bietjie tyd gehad om aan die Kersfees kwilt te werk. Ek het rame om elke klein prentjie vasgewerk. Ek moet nog die middel blok doen, en dan die hele ding aanmekaar vaswerk. Dis hoe die klein prentjies met hul rame lyk:



Nou vir iets wat klaar is! Hier is die sterre wat ek in van my eerste inskrywings oor gepraat het.


Hulle het my bietjie 'n kopseer gegee, want die batting het bly gly onder die naald. Blyk my dat ek te veel batting gebruik het. Ek wou graag die sterre baie "puffy" laat lyk het. Later het ek egter al die ekstra batting verwyder en met een (klein sterre) of twee lae (groot sterre) batting gewerk. Maar nou-ja, hulle lyk nie te sleg nie. Dink tog ek sal volgende keer dinge 'n bietjie anders aanpak.

Soos jul kan sien, sit ek nie stil nie. Ek moet seker maar hier klaarmaak en weer begin werk...

Terwyl ek so hard aan die werk is, is daar darem iemand om my op te beskerm as manlief nie by die huis is nie...



Hierdie is Groenes. Hy is my lyfwag wanneer ek alleen tuis is. Tans is sy vroutjie swanger, en sy bak heeldag in die son by ons badkamervenster. Groenes wandel soms die hele huis vol, maar is grootliks altyd in die badkamer, of in die studeer kamer, en soms in ons slaapkamer. In vergelyking met die bruin geitjie, is hierdie geitjie baie gemaklik wanneer ons in die omtrek is. Inteendeel, hy het nie eers geroer terwyl ek hierdie foto van hom geneem het nie! En ek het baie naby aan hom gestaan!

Tot volgende keer!