Sunday 8 May 2011

Staptog in die Boendoes

Daar is niks meer aangenaam, as om vroeg oggend op te staan, en te weet jy gaan vandag in die boendoes baljaar nie...ok, miskien is daar. Tog het ons gister saam met Astrid (Grandma's Red Needle / Red Needle's Tropical Passions) en haar man 'n heerlike roete gestap.

Die oggend was koel, grys, en het na 'n belowende dag gelyk vir 'n staptog.



Ons was meters weg van ons eindbestemming (om die motor te parkeer en die boendoes in te vaar), toe 'n man ons keer, en homself bekend stel as 'n toergids. Hy ken die area van die Tamarind Falls baie goed, en wou ons graag op die roete neem. Ek was bietjie in die gesig gevat, want die toergids het gedink ons kom van Engeland af (geen slegte gevoelens teenoor die mense van Engeland nie!!!).  Ook, sou ons hom 'n fooitjie moes betaal, maar ons het gelukkig betyds besluit om nie van sy dienste gebruik te maak nie.

 Tamarind Watervalle vanaf die parkeerarea

Ons was ook nie regtig van plan om die watervalle self te gaan klim nie, maar wou 'n voetpaadjie in daardie area stap.

Dit is die begin punt...


Ons was skaars op die voetpaadjie, toe word ons aangeval deur muskiete - miljoene van hulle. Arme Manlief se arms, nek en gesig was bloedrooi gebyt, en het hy later sy baadjie aangetrek. Ek het ook 'n paar byte gehad op my arms en hande, maar kon vinnig genoeg my baadjie aantrek. In 'n humide plek soos hierdie, was die baadjie later 'n groter las as 'n redding, want ek het my sopnat gesweet binne-in die ding. Maar ek het verkies om met die baadjie te stap, en te sorg dat ek genoeg water drink, eerder as om die muskiete 'n rede te gee om ons te volg!!!

Gelukkig het ons gou genoeg in 'n oop area (so oop soos wat 'n mens kan kry in 'n bos-agtige area) beland en ons kon vir Flic en Flac in die verte sien.


Een van die groot verrassings, en die een wat my bloed byna laat stol het, was die perdeby neste in die bome



en selfs een teen 'n elektriese draad!


Dis die neste van die Paper Wasp. Ek is maar baie skrikkerig vir hulle, en ek het BAIE ver weg gebly.

Ons staptog het ons dieper in die bos ingeneem, en ons het beskerming teen die son gehad. Ongelukkig het dit net meer humied geraak. Wat gevoel het soos ure later, omdat tyd net stil staan in die plek - dink ons het 'n uur en 'n half gestap - het ons by die rivier 'n sitplek gevind, en middag-ete geniet. Middag-ete het bestaan uit Boontjie-poffertjies, Tee, Oliebolle en water. Die uitsig was ook nie te sleg nie:




Die terug keer was vinniger - as ek reg onthou het ons in 'n uur terug gestap. Die middag-ete het ons dus 'n goeie hupstoot gegee :) Met die terug keer het ons ook 'n paar wilde sampioene raakgeloop, en Manlief was eerste met die foto's:



Wat 'n heerlike dag met vriende, natuur en vars lug! Fantasties!

Voor ek vergeet - Gelukkige Moedersdag aan die Ma's/Ouma's - dankie vir al die liefde, geduld, harde werk ,en meer liefde, wat julle ons - julle kinders (maak nie saak wat die ouderdom nie) bied. Julle is net die beste!

Wat my kwiltwerk betref - ek is besig om kwiltwerk te doen op Manlief se kwilt. Ek het tot 'n skok besef ek nie genoeg watte-ersel (batting) het, vir beide Manlief se kwilt en die Raggedy kwilt, nie en moet bestel. Gelukkig is daar genoeg vir Manlief se kwilt - en aangesien dit moet klaar vir sy verjaarsdag, is dit natuurlik my top prioriteit.

Lekker dag en tot volgende keer!