Saturday 25 December 2010

Geseënde Kersfees

Geseënde Kersfees aan al julle wonderlike mense.

Mag die dag gevul wees met vreugde en liefde.

Beste wense!

Monday 20 December 2010

Fish Frenzy en Quilting kookboek

Ek het uiteindelik my posstuk gekry, wat ek al vanaf Oktober voor wag!!!

Erin, van One Piece at a Time, het 'n kompetisie gehad, waarin jy 'n naam moes gee aan een van haar appliek visse. Die prys was die Fish Frenzy patroon.


Alhoewel my naam vir die vis nie gekies is nie, was my naam egter getrek vir die prys  :-D  Dit het verlede week gearriveer. Iewers in die pos sisteem is daar nog 'n Fish Frenzy patroon, met my naam op, maar dit het nooit sy eindbestemming bereik nie. Erin was gaaf genoeg om weer 'n patroon aan my te stuur, en dis die een wat ek nou ontvang het. Ek kan nie wag om hiermee te begin nie, maar daar is eers 'n paar ander projekte wat ek moet voltooi, voordat ek my "vissies" kan maak. *sug*

Die van julle wat lief is vir tyd in die kombuis spandeer, of opsoek is na nuwe idees vir disse om voor te sit op die tafel, gaan maak 'n draai by Quilting Gallery - hulle het pas hul tweede kookboek vrygestel - Holiday Traditions. Die eerste kookboek is ook nog beskikbaar.


In beide kookboeke is daar heerlike resepte om te probeer, stories wat vertel word, en kwilt projekte om te bewonder. Die boeke kom in 'n .pdf formaat, dus hoef jy nie te wag dat dit in die pos kom nie. Dit kan dadelik afgelaai word, sodra jou aankope voltooi is.

Geseënde Kersfees aan julle almal.

Groete vir eers! 

Friday 17 December 2010

Kersfeeskoek en Borduurwerk

Ek moet erken dat die laaste paar dae sukkel ek om my aandag op een taak te hou. Ek spring rond tussen werk, huis en Kersfees voorbereiding, en dit lyk nie of ek veel vordering maak met enige iets nie. Voel julle ook so?

Die take wat ek wel voltooi het, tot dusver, is Vrugtekoek bak en 'n bietjie borduurwerk.


Ek moet nou bieg en ook noem dat ek nie kans sien om die koek te versier met harde-versiersel nie. Dit het net na te veel werk geklink. Buitendien, hierdie koek het net 60ml sjerrie in, waar die ryk vrugtekoeke gewoonlik begin met 100ml, en dan elke week nog 'n bietjie sjerrie by kry om dit klam te hou. Dus glo ek nie dis nodig vir die versiering nie. En die prentjie in die kookboek, het ook geen versiering gehad nie (vir wat dit werd is)! Manlief noem gereeld dat die huis ruik nou na 'n drank winkel/kroeg, met die geur van vrugtekoek in die huis...Wonder of hy skimp vir 'n stukkie koek :-)

My kussing #3 se borduurwerk is nou voltooi. Nou moet ek die "toebroodjie" maak en dit kwilt. Vandaar maak ek die agterkant en dan is dit klaar. Sal kyk of ek lank genoeg kan stil sit om dit te doen. 


Hier is 'n paar naby skote van die borduurwerk:




Ek kry gereeld vrae oor watter "Block of the Month" of projek ek vanaf werk. Hierdie is egter nie 'n Sew Along projek nie. Ek het vroeg in die jaar 'n boek oor appliek gesoek, en het hierdie boek gekoop:


Al die kussing oortreksels wat ek tot dusver gemaak het, sien hier en hier, en ook nou die derde oortreksel, kom uit hierdie boek uit. Daar is in totaal 13 projekte. 12 van hulle kan as kussing oortreksels gemaak word, en die 13de projek is 'n muurbehangsel. Dis 'n uitstekende boek, en elke stap en borduur steek word deeglik bespreek. Die boek is baie duidelik, en gebruikersvriendelik. Alhoewel daar baie riglyne in die boek is, word die spasie vir jou gegee om 'n bietjie van jou eie "touch" in die projekte in te werk. Vir mense wat belangstel in appliek, kan ek hierdie boek voor aanbeveel. Daar is egter baie appliek tegnieke, en hierdie boek behandel slegs een van hulle, maar jy kry baie vinnig die idee van hoe alles werk. Ek het die boek by Craft Connection gekoop

Geniet julle voorbereiding vir Kersfees, en geniet die feesseisoen.

Tot later

Wednesday 8 December 2010

Fat Quarter Pack weggee

Hi Almal

Jackie by Canton Village Quilt Works bied 'n weggee aan. Jy staan 'n kans om een van twee fat quarter packs te wen.

Die kompetisie is geldig tot 12de Desember.

Sterkte!

Wednesday 1 December 2010

Raggedy en Marbles

Wel, nadat ek my Kersfees kwilt klaargemaak het, is ek uitgeput. Ek het ek my masjien geolie en skoongemaak, en dit gebêre. Tog het ek wel aan die volgende twee projekte gewerk:

Raggedy #5 is voltooi.


Sjoe, ek kan nie glo ons is al amper half-pad met die projek nie! 5 uit 12 blokke is al klaar. Ek kan nie wag om hierdie kombersie klaar te maak nie. Ek sien alreeds hoe ek onder hierdie kombers sit, en tv kyk of boek lees, hierdie winter... Om die groter prentjie te kry van hoe die kwilt op die oomblik lyk, het ek al 5 blokke uitgepak op die grond...


Is dit net ek, of sien julle ook 'n lekker beker Cappuccino met sjokolade sprinkels...:-D

Verder het ek aan die volgende Marble kussing begin werk. Die appliek stukkie is uitgesny en vas gestryk. Ek het al begin met die borduurwerk rondom die middelste blom, en die stele van die omringende blomme. Moet nog net een steeltjie vaswerk.


Die boonste laag materiaal is organza. Dit work gebruik om die kleure van die appliekwerk te verdof, en daarom word dit skadu-werk genoem. Jy plaas jou appliek bo-op die agtergrond, en plaas dan die organza bo-oor. Die borduurwerk gaan deur al drie lae materiaal. Wanneer dit klaar is, dan kom die maklike en vinnige deel: kwiltwerk en die maak van die agterkant van die oortreksel.

Verder, moet ek met skaamte erken, het ek nie veel gedoen nie. Ek dink die "holiday mood" het nou die beter deel van my gekry.

Tot later!

Thursday 18 November 2010

Christmas Quilt Show 2010

Wie van julle is lus om bietjie rond te loop...in hierdie geval seker rond browse... en vele kwiltwerke te bekyk? Miskien opsoek na bietjie inspirasie vir Kersfees? Sew Cal Gal bied 'n Kersfees kwilt skou aan, en ek het besluit (na die aanbeveling van Millie) om ook my indiening te maak.

Hier is my inskrywing:


Hierdie kwilt het ek 'n paar dae gelede voltooi, en is my eerste muurbehangsel wat ek gemaak het.  Hierdie muurbehangsel word gekomplimenteer met hierdie sterre, wat ek 'n paar maande gelede voltooi het:




Daar is vele inskrywings vir die skou, en julle kan elkeen (virtueel) bekyk. Kliek op die prentjie, op my linkerkantste paneel, en word weggevoer...

Geniet dit!

Monday 8 November 2010

Kerskwilt - KLAAR!!!

Dit is klaar, dit is klaar, tra la la la-la...!!!

Hier is my Kersfees kwilt tra la la la-la:
Dis seker nie so noemenswaardig nie, maar ek is baie trots op die werk wat ek op hierdie kwilt gedoen het. Siende dat ek skaars 'n rukkie terug ontdek het hoe om FMQ te doen op my masjien, dink ek die werk wat gedoen is, is baie goed. Ek het baie tyd gehad, siende dat ons nou 'n paar vakansie dae gehad het, en dat manlief vir 'n rukkie weg was met 'n besigheids-projek. So, ek het agter die masjien gaan sit, baie mooi met hom gepraat, en die volgende het uit die naald en gare verskyn tot op die kwilt:

Tussen die kleiner prentjies, het ek drie verskillende prentjies, in rooi, gekwilt. Die eerste een is die ster...


...tweedens is die Poinsettia...


 ...en derdens 'n stel klokkies (dink hulle is die moeilikste om raak te sien).


Rondom die middelstuk, het ek 'n kruiper met blare (probeer) kwilt, in groen...dink ek moet nog oefen aan die punte van die blare...dit lyk 'n bietjie rond :-)


(soos met al die ander, indien julle op die prentjies kliek, word die prentjie groter)

Dit voel vir my asof ek 'n berg uitgeklim het - ek het nie seer bene of longe sonder asem nie, maar die oorwinning van die klim! Wonder wat ek volgende kan kwilt...

Ek het tussen-in ook aan blok #4 van die Raggedy BOM gewerk.

Tot dusver, was hierdie my gunstelling een om te borduur.

My "Brown Bag" kwilt staan op die oomblik stil. Ek het nie genoeg blou nie, en moes dit aankoop...grrrr...Ek het so gehoop dat ek al die materiale kon gebruik, sonder om ekstra aan te koop, maar die "goeie fee" was nie aan my kant nie. Hopelik sal ek my pakkie blou materiaal binne die volgende twee weke of so kry.

Ek dink my masjien het so bietjie van 'n time-out verdien. Ek het 'n paar hand-werk projekte wat ek kan doen. Dink ook ek gaan dinge nou bietjie stadiger vat, maar nie heeltemal dood stop met my projekte nie. Net tot na Kersfees en Nuwe jaar, dan tel ek weer spoed op.

Tot volgende keer.

Ps. For those of you who do not understand Afrikaans, may I teach you something... The word "Kwilt" means "Quilt", and is pronounced the same. The Translator understands and translate the word "kwiltwerk" to "quilting", but it still gets confused with the word kwilt. Thus, everywhere you see the word kwilt, substitute it with the word quilted, or quilt (noun or verb)

Saturday 30 October 2010

Verslawings

Ek het iets wat ek moet bely - ek is verslaaf....AAN BEKERS!

Daar is nie 'n beker wat ek kan verby laat gaan, sonder om eers dit te bewonder en te oordink, oor waar dit die beste in my huis sal vertoon nie. Waar ookal ek kom, wil ek 'n beker hê. Ek het bekers met strokiesprente op, bekers wat ek as geskenke vir my verjaarsdae en Kersfees gekry het, bekers as aandenkings van plekke wat ek besoek het...en so kan ek aangaan. Dus, toe ek gister gaan inkopies doen het, kon ek myself net nie help nie...

Die een verskaffer - Nescafè - gee bekers met hul koffie produkte weg. Toe ek weer kyk, is hierdie twee in my hand:


Maar nou kom my probleem in...julle sien die beker aan die regter kant - die een met die groot glimlag? Daar is nog twee sulke bekers, met ander gesiggies op. Ek het gister hard met myself baklei, om nie 4 maande se koffie voorraad aan te koop nie. Maar ek kan dit ook nie verdra, om net 'n gedeelte van 'n stel bekers te hê nie. Hoe nou?

Een van my gunstelling bekers is hierdie een, wat my vriendin uit London vir my gebring het:


Dis natuurlik ook die beker wat ek saam gebring het, terwyl ons hier in Mauritius woon. Meeste van my versamel bekers het krake in, of het 'n stukkende plek iewers, en ek wou dit nie waag om hulle oor te bring nie. Gewoonlik word my bekers (wat ek versamel) bo-op my kombuis kaste vertoon. En soms sal ek hulle gebruik ook.

Wel, tyd vir my om te gaan koffie drink - in my nuwe bekers.

Waaraan is julle verslaaf?

Groete!

Wednesday 27 October 2010

Speeltyd en iets uit die verlede

Fleurette by Fleur's place het die oulikste tissue-houers gemaak, en ek kon nie dit weerstaan om van my eie te maak nie. Julle kan die patroon vir hierdie oulike, snoesige houertjies (en ander oulike idees), kry by Polka Dot Pineapple. Hierdie houers is so vinnig en maklik om te maak. Dit gaan natuurlik ook baie oulike geskenkies maak...Ek het alreeds 'n hele paar name vir wie ek hierdie houertjies kan/gaan maak.



Terwyl ek so aan die speel was, het ek ook gekyk of ek kan FMQ (free motion quilting) doen. Dit het my 'n rukkie geneem om my masjien aan te pas, maar ek het dit reg gekry. Ek het 'n beker mussie gemaak. Ek vergeet soms van my koffie, wanneer ek baie besig raak, en wanneer ek weer onthou, is my koffie yskoud. Hopelik is dit nou iets van die verlede met my beker mussie.



Kan julle die kwiltwerk sien? Dis nie regtig besonders nie, maar vir my is dit goed genoeg as motivering om dit op ander projekte ook te probeer.

Onthou julle hierdie foto, vanaf hierdie inskrywing:



Michelle by The Desert Quilter het toevallig, in die kommentaar wat sy gelos het, reg geraai. Dit is inderdaad 'n baba kwilt. In September het my skoon-suster geboorte geskenk aan 'n pragtige baba seuntjie, en as Tannie, wou ek graag iets vir die kleinding maak. Hier is die voltooide kombersie:



En hier is die agter kant (Jammer vir die swak fokus):



Dis dit, vir eers. Tot later!

Friday 22 October 2010

Besig, besig, besig...

...maar het min om daarvoor te wys.

Al ooit die gevoel gekry dat jy soms jou tot die dood toe werk, en dan het jy nie eers resultate, as bewyse van jou harde werk nie? Dit is baie frustrerend, en presies hoe ek voel die afgelope twee weke. Ek was verskriklik besig, maar kan nie vir julle iets wys nie. Ek moet erken dat, ek min kwiltwerk gedoen het, maar ek kon darem so bietjie tyd spandeer agter die masjien.

Kom ek wys julle wat ek op die oomblik aan werk:


Hierdie is 'n klein blik op my Brown Bag Quilt Contest projek. Die middelpunt is voltooi, maar ek werk nog aan die res. Dit blyk of ek genoeg materiaal oor gaan hê, om die agterkant ook te voltooi. Yeah!


Die kwiltwerk van die Kersfees muurbehangsel, gaan maar stadig. Ek het oorspronklik die toebroodjie gemaak met spelde, maar dit het nie so lekker gewerk nie. Ek het later die spelde verwyder, en dit met gare vervang. Dit gaan nou beter, maar ek sukkel steeds so bietjie. My mikpunt is om dit voor Kersfees 2010 klaar te maak!!!

En dan natuurlik - Blok 4 van "Raggedy and Friends", wat Woensdag vrygestel is. Ek het die stukke gistraand gesny. Sal kyk wanneer ek tyd het om dit aanmekaar te stik en borduur.

Dis my lysie "to do's". Hoe lyk julle s'n?

Groete vir eers!

Sunday 10 October 2010

Groei pyne

Wel, dit blyk asof my blog 'n bietjie groei pyne ondervind.

Nie net het my "interface" oornag verander nie, maar ek kry klagtes dat mense nie my translator gadget kry nie, of dat julle nie kan kommentaar lewer nie. Indien julle enige probleme ondervind, of selfs voorstelle het vir goed wat ek kan verander/byvoeg/weglaat, laat my weet. Ek waardeer al die insette wat julle my kan bied. Indien julle dieselfde probleme ondervind, laat my weet, dan kyk ons of ons dit saam kan uitsorteer.

Dus, die probleme wat ek tot dusver ondervind het, en my oplossings:

Probleem: Mense het gesukkel om my translator gadget te kry.
Oplossing: Ek het die translator gadget tot heel bo aan die webbladsy geskuif, en 'n groot nota gemaak oor waar dit is. Tot dusver het ek nie weer klagtes ontvang nie.

Probleem: My "labels" het oorspronklik gewys, en toe verdwyn.
Oplossing: Ek het na "Design" gegaan, en die Edit HTML opsie gekies. Ek het 'n back up van my templaat gemaak, en op die "Revert widget templates to default" gekliek. Daarna het alles weer gewerk.

Probleem: Mense kan nie kommentaar lewer nie
Oplossing. Hopenlik het die "Revert widget templates to default" gehelp daarmee. Laat my weet indien julle steeds sukkel om kommentaar te los.

Probleem: Die kommentaar, reaksies en ander interaksie gadgets verander (Die interaksie gadget aan die onderkant van elke inskrywing)
Oplossing: Die "Revert widget templates to default" het die probleem ook opgelos.

Hoop dit help julle wat dieselfde probleme as ek ondervind.

Groete vir eers!

Tuesday 5 October 2010

Lekkers, materiale en uitstappie

Wel, ek moet erken dat ek nie veel kwiltwerk gedoen het die laaste week nie. Lyk my dat tyd was baie skaars vir my - maar ek was wel besig met ontdekkings:

Ons het verlede week Turkish Delight gemaak. Na vele onsuksesvolle pogings, het ons op 'n resep af gekom waarmee ons gelukkig is. Ongelukkig het ek nie foto's geneem nie. Soos ek genoem het, ons het vele pogings aangewend, en by hulle het ek elke keer foto's geneem, net om teleurgesteld te word. Indien julle die resep wil probeer, kan julle dit hier kry. Dis die resultaat van ons harde werk:


Daar was baie meer in die boksie, maar ons het intussen heerlik gesmul aan die lekkerny. En dit was (en is steeds) lekker!!!

Die Brown Bag Quilt Contest is ook nou op volle dreef. Ek het Vrydag my materiale ontvang vanaf Brenda, my uitruil "partner". Sy het vir my hierdie lieflike materiale gestuur:


Hmmm....wat kan ek met hierdie materiale maak. Dis glad nie lelike materiale nie!!! Dalk miskien bietjie buite my gemaklikheid sone, tog is dit mooi drukwerk.  Ongelukkig het ek vergeet om foto's te neem van my materiale, wat ek aan Brenda gestuur het. Neem aan ek was te opgewonde om van die goed ontslae te raak :-)

Hierdie naweek het ons onself verbeel ons is Tarzan en Jane. Ons het saam met "Astrid" gaan stap in die berge. Ons het 'n wandelpad gevolg wat strek vanaf Petrin tot by Grand Rivier Noire (Great Black River). Ek het nie besef hoe (on)fiks ek is nie, en die staproete was vir my 'n uitdaging. Tog het ek en manlief die bul by die horings gepak, en ons het 'n heerlike dag gehad. Ons het 'n verskeidenheid plante groei gesien, soos hierdie palmboom;



asook 'n paar wilde diere, soos hierdie klein wilde varkie:

(hy en sy boetie was te vinnig vir die kamera, so ons het net die agterkant van die kleinding afgeneem)

asook hierdie papegaai/parkiet.


Die uitstappie het ons 7 uur geneem. Ons het nie die volle roete gevolg nie, want ons moes by die kruising, met die Black River, omdraai, sodat ons betyds terug kon wees om by ons motor uit te kom. Ons wou beslis nie die aand spandeer in die berge nie. Ons het darem vele kere gestop, en het ook 'n paar happies kos en drink goed ingeneem. Die moeilikste deel van die hele roete - vir my - was die "trappe" wat ons moes klim. Dis 'n baie steil afdraande, en dis opgebou met hout trappies, maar aangesien dit daardie oggend gereën het (ja, ons het in die reën begin stap) was alles vol modder en baie glad. Ek moes 'n paar keer aan bome vasklou, want anders sou ek gegly en geval het. Met die terugkom slag, het die grond begin uitdroog, en was die klim baie makliker. Ons was BAIE moeg toe ons uiteindelik die motor bereik het, en my bene het soos lood gevoel. Die uitsig was beslis die pyn werd.

Riviere Noire (Black Rivier)

Deel van die Gorges

(Julle kan op enige van die prente kliek om dit groter te maak)

Julle kan meer stories en foto's sien oor ons uitstappie, op "Astrid" se blog: Grandma's Red Needle

Tot volgende keer!

Monday 27 September 2010

Natuur tonele en BOM

Ai, wat 'n lieflike naweek! Net 'n jammer dit was so kort!

Die weer begin sy warm strale uit steek, en daarmee saam begin ons die mooiste sonsondergange kry. Dis natuurlik een voordeel om op die tweede verdieping bly - hierdie prentjie kan jy nie mis nie, al wil jy:


Ongelukkig het die foto bietjie donkerder uitgekom as wat ek gehoop het. Wanneer die son hierdie kleur is, is ons hele leef area en kombuis oorspoel met rooi en oranje kleure. Dis te ongelooflik om te beskryf.

Ons was gister vir 'n kort rukkie strand toe. Dit was heerlik om weer  die seelug in te asem, en die wind in die hare te voel. Ons was nie baie lank daar nie - die strand was dig gepak, tog het ons dit gate uit geniet. Ek het 'n storie boek geneem, en lekker in die boom se skaduwee gelê en lees.  Die wind het bietjie gewaai, en natuurlik was dit die regte verskoning vir 'n klomp wind- en kite-surfers om hul talente ten toon te stel. Dis is die prentjie wat ons gesien het, wanneer ons uitgekyk het oor die waters (om beter te sien, kliek op die prentjie om dit groter te maak):


Intussen het ek aan Raggedy BOM blok 3 gewerk, en het dit hierdie naweek voltooi. Hierdie keer het ek nie probleme gehad met verkeerde naat toelatings nie - hahahahaha!


Wel, dit was my naweek. Hoop julle het ook 'n wonderlike naweek gehad.

Tot later!

Friday 24 September 2010

Weg gee kompetisies

Wie van julle wil 'n GO! Cutter wen? Laat ek sien, hande in die lug ...
Die volgende persone bied jou die kans om 'n GO! Cutter te wen:

- Kaaren by The Painted Quilt
- Karen by Log Cabin Quilter
- Millie by Millie's Quilting

Opskud...

Saturday 18 September 2010

Marbles en Kersfees

Ek moet sê dat ek voel redelik goed oor my vordering hierdie twee weke. Ek het ongelukkig nie so baie foto's om vir julle te wys nie, maar dit beteken nie die werk was nie minder intensief nie...

My tweede marble-kussing oortreksel is voltooi!!!



Die twee lyk tog te vrolik langs mekaar, of hoe? Ek het al die materiaal vir die derde kussing ontvang, en ek sal daaraan begin werk nadat ek die Kersfees kwilt voltooi het.

So gepraat van, hier is die voltooide bo-stuk.



Ek moet nou net die "toebroodjie" maak en dan dit kwilt. Ek wil iets ander probeer op hierdie projek in plaas van net "stitch in the ditch". Ek het reeds 'n idee oor wat ek wil doen, en het reeds begin voorberei daarvoor...Sal maar kyk hoe dit gaan.


Ek het myself ook ingeskryf vir die Brown Bag Quilt Contest. Ek is seker julle het al die logo op my kant paneel opgemerk. Ek het my swap partner se details gekry, en die pakkie is weggestuur. Ek is baie nuuskierig om te sien watter materiale ek gaan ontvang... Vir die van julle wat graag wil deelneem, of meer hieroor wil lees, kliek op die logo, wat jou na die blog inskrywing sal neem.

Dis dit vir eers.

Tot later!

Tuesday 7 September 2010

Produksielyn

Vandag is net 'n "update" op al die projekte waaraan ek tans werk. Sommige se vordering is uitstekend terwyl ander projekte bietjie aandag nodig het.

Na al die drama verlede naweek, met al my naat toelatings wat nie wil saam speel nie, het ek baie hard gewerk om alles netjies te kry. My borduurwerk het miskien nog bietjie oefening nodig, maar ek is baie tevrede met hoe die BOM blokke uitgekom het. Ek het letterlik die hele week, na my laaste inskrywing, net borduurwerk gedoen. Dink dis tyd dat ek 'n "chance of scenery" uitoefen.

Hier is Raggedy and Friends Block 1



En hier is Raggedy and Friends Block 2


Nou is ek reg vir Raggedy and Friends Block 3, wat om-en-by die 20ste vrygestel sal word.

Verder is ek besig met my kussing oortreksel nommer 2. Ek is klaar met al die borduurwerk en die voorkant is afgewerk. Ek wag net vir my materiale om die "ruffle" te maak, dan is hierdie dame afgehandel. Ek het gister die kennisgewing gekry dat my materiale by Doeane is (sien vorige inskrywing), maar ek is nie seker wanneer ek die kans gaan kry om by Port Louis uit te kom nie. Sal my manlief vra of hy dit kan gaan afhaal.

Hier is die "werk-in-proses" kussing oortreksel 2/12





Ek het ook intussen bietjie tyd gehad om aan die Kersfees kwilt te werk. Ek het rame om elke klein prentjie vasgewerk. Ek moet nog die middel blok doen, en dan die hele ding aanmekaar vaswerk. Dis hoe die klein prentjies met hul rame lyk:



Nou vir iets wat klaar is! Hier is die sterre wat ek in van my eerste inskrywings oor gepraat het.


Hulle het my bietjie 'n kopseer gegee, want die batting het bly gly onder die naald. Blyk my dat ek te veel batting gebruik het. Ek wou graag die sterre baie "puffy" laat lyk het. Later het ek egter al die ekstra batting verwyder en met een (klein sterre) of twee lae (groot sterre) batting gewerk. Maar nou-ja, hulle lyk nie te sleg nie. Dink tog ek sal volgende keer dinge 'n bietjie anders aanpak.

Soos jul kan sien, sit ek nie stil nie. Ek moet seker maar hier klaarmaak en weer begin werk...

Terwyl ek so hard aan die werk is, is daar darem iemand om my op te beskerm as manlief nie by die huis is nie...



Hierdie is Groenes. Hy is my lyfwag wanneer ek alleen tuis is. Tans is sy vroutjie swanger, en sy bak heeldag in die son by ons badkamervenster. Groenes wandel soms die hele huis vol, maar is grootliks altyd in die badkamer, of in die studeer kamer, en soms in ons slaapkamer. In vergelyking met die bruin geitjie, is hierdie geitjie baie gemaklik wanneer ons in die omtrek is. Inteendeel, hy het nie eers geroer terwyl ek hierdie foto van hom geneem het nie! En ek het baie naby aan hom gestaan!

Tot volgende keer!

Tuesday 31 August 2010

Ek het my les geleer!

Wel, wat 'n naweek! Ek was so opgewonde toe ek Donderdag die kennisgewing kry om 'n pakkie by die poskantoor moet gaan haal. Ek het presies geweet wat dit was, en ek kon nie Vrydag gou genoeg in Port Louis (Mauritius se hoofstad) kom, om my pakkie te gaan haal nie. Soms gebeur dit dat die Doeane, by die poskantoor, jou pakkie afneem, en dan moet jy die inhoud verklaar. Ander kere is ons baie gelukkig en dan glip die pakkie deur. Met hierdie geval moes ek die inhoud verklaar... Ek kan hul ook nie kwalik neem nie, want ek het 10 meter se materiaal bestel...

In Port Louis aangekom, en na al my werks verpligtinge daar afgehandel is, is ek na die poskantoor om my pakkie te gaan optel. Hier is 'n foto van hoe die hoofweg (motorway) lyk, wat aan die buite-kant van Port Louis verby gaan, met die Stad in die agter grond, en die hawe aan die regterkant (nie sigbaar, maar vir die interessantheid).



En hier is die ander kant. Die foto's is geneem vanaf die Doeane se oprit. Ongelukkig was daar te veel voertuie, anders het ek 'n foto van Doeane ook geneem.



By die huis gekom, het ek onmiddelik die pakkie oopgemaak en my materiale uitgepak. Ek het Saterdag die heel dag spandeer om die materiale te sny vir die Raggedy and Friends BOM van Kaaren by The Painted Quilt. My probleem het egter ingekom, toe ek die stukke begin aanmekaar heg...



Wat 'n gemors!!! Niks wou reg pas nie. Dit kom toe uit dat ek my naat toelating 3/8" maak en nie 1/4" soos wat dit veronderstel is om te wees nie. Duidelik kan 1/8" 'n baie groot verskil maak. Blyk my dat ek plaas elke keer die materiaal net 'n klein bietjie verby die naaldwerk voet, in plaas van onder die voet...Na 'n halwe dag van kla oor hoe dom ek is, en alles weer lostrek en her vaswerk, kan ek darem nou sê dat alles pas snoesig. Ek is besig met die borduurwerk, en sal hopenlik later hierdie week vir julle die eindproduk wys.

Wel, ek het my les geleer...die harde manier.

Tot later!

Elzaan