Monday 24 January 2011

Naaldwerk naweek

O, wat 'n lieflike naweek het ek beleef! Manlief het tyd met sy rekenaar spandeer, en ek het tyd spandeer agter die sny tafel en naaldwerkmasjien. Ek het so baie mikpunte bereik, dat ek besluit het om myself te bederf.

Ek het my Brown Bag Quilt voltooi. Daar is nou net die klein "tweaking" wat gedoen moet word. Ek wys vir julle die rugkant, vir eers. Die groen, donkerblou en rooi is al wat oorgebly het van die materiaal wat oorspronklik aan my gestuur is, en die bietjie wat ek moes by koop. Die blou met die prentjies op, pienk en wit is uit my "stash". Dus het ek al die moontlike bruikbare materiale gebruik vir hierdie kompetisie, asook 'n bietjie "stash busting" gedoen. Dis 'n wen-wen situasie vir my!



Daarna het ek aan die Raggedy Blokke 7 tot 9 gewerk, wat Donderdag vrygestel is. Hulle is almal vasgewerk, maar moet nog geborduur word. Blok 6 wag ook nog om geborduur te word. Ek het nog nie lank genoeg tyd gehad om te sit en borduurwerk te doen nie. Blyk my ek begin agter raak!

 
Na ek alles voltooi het, het ek besluit dis tyd om vir my 'n nuwe sak te maak. Hier is my ou sak:


Hierdie was die heel eerste kwiltwerk projek wat ek gedoen het. Ek het 'n klas bygewoon, waar ons hierdie sak gemaak het. Hierdie sak bestaan uit 8 kleure. Die patroon is so dat jy enige iets van 2 kleure tot 72 kleure kan gebruik. Maar ek dink tog dat 2, 4 en 8 kleure vertoon die beste.

My ou sak is al twee jaar lank in diens, en dit begin te wys:


Die handvatsels is al onherstelbaar;


 en die buitekant het begin los skeur (al het ek dit voorheen herstel), en die kleure het begin verbleik a.g.v. die son.

Wat my betref, was dit tyd vir 'n nuwe een:

 
Ek het hierdie keer besluit om iets meer neutraal te maak. Ek het twee materiale gebruik. Die gekleurde materiaal het bruin, groen, goud en blou in. Dus is dit 'n two-tone/multi kleur skema. Ek neem my sak orals saam, selfs na kliënte toe. Dus moet ek altyd op my beste lyk. Ek glo hierdie sak pas in daardie "profiel".

Wel, dis my naweek. Hoe was jul naweek?

Groete vir eers!

Saturday 22 January 2011

Kookboek wenners

En die wenners is:


(Drum roll)



en 


Baie geluk! Ek sal jul eposse binne-kort aanstuur.

Aan die wat ongelukkig nie gewen het nie, daar is altyd volgende keer. Asook, indien jul belangstel om die boeke te koop, gaan na www.quiltinggallery.com/quilters-cookbook/ en maak jul aankope daar.

Tot volgende keer!

Thursday 13 January 2011

Grand Baie, Kussings en Tornado

Ons het verlede week 'n paar dae "vakansie" gehad. Ons is Vrydagoggend deur na Grand Baie vir 'n vinnige "inloer". Daar aangekom, is ek na my gunstelling winkel: Delsol.


Hierdie winkel se oorsprong is van VSA, en het 'n tak hier geopen. Die eienaars bly al 10 jaar hier in Mauritius, en het iets "nuuts" gesoek om te probeer.


Wanneer jy die winkel ingaan, is daar net souvenirs waar jy kyk. T-hemde, sleutelringe, juwele, broeke, sakke, en nog meer. Wat maak hierdie produkte so spesiaal? Die produkte verander van kleur wanneer dit in sonlig/UV in aanraking kom. Selfs die sakkies waarin jou aankope gedra word verander van kleur:


Sonder son:


 In sonlig:


Nadat ek my beursie leeg gekoop het, is ek uit na die strate. Dit was rondom middag-ete, so baie mense was oppad om iets te kry om te eet. Die grootste gedeelte van die hoofstraat (in die midde-dorp) is gepak met winkels en restaurante vir toeriste en die mense wat daar bly.


Hier staan 'n Majestic Palm tussen 'n klomp winkels.


Na nog 'n paar besoeke aan 'n klomp winkels, was dit tyd om huis toe te gaan.

Alhoewel Grand Baie baie sonnig en warm was, was Flic en Flac en Tamarin baie donker, maar steeds warm en bedompig.


Ons het die laaste paar dae baie reën in die area gehad, en is baie dankbaar daarvoor. Die Tamarin berg was baie vaal en bruin, maar nou is dit gras groen. Mense sê die reën is baie laat hierdie jaar (verlede jaar het dit in November al begin reën), en as gevolg daarvan het sommige dele van die eiland gebuk gegaan onder water beperkings. Hoop hierdie reën val op die regte plekke, sodat die damme kan vol en water na al die belangrike plekke toe kan gaan.

Tydens die "donker" dag in Tamarin, het dit heerlik gereën oor die see. Maar ek het nooit gedink dat ek hierdie prentjie sal sien naby aan die eiland Mauritius nie...


Ongelukkig is die prentjie baie swak. Die fokus kon net so ver gaan, voordat die reën die prent heeltemal verdof het. Ons skat die tornado (of twee) was minstens 8 Km uit oor die see, maar ons kan dit nie met akkuraatheid sê nie. Ongelukkig kon ons ook nie sien of die tweede "funnel" sy "touch down" bereik het nie, want daar het 'n wolk oor die gebeurtenis beweeg.

Na al hierdie opwinding, was dit tyd om rustig te raak. Ek het agter die naaldwerkmasjien ingeskuif, en die derde Marble kussing voltooi:


3 van die 12 kussings in nou voltooi :-D Nog 9 om te gaan... Ek het ook die Raggedy Blok 6 vasgewerk, en moet nog net borduur word. Sal julle wys sodra ek daarmee klaar is.

Sjoe, wat 'n lywige blogpost! Wel, ek skuld julle seker foto's en stories oor Mauritius. Het nogal lanklaas iets oor die eiland geskryf.

Onthou van my weg gee die 22ste. Lees my vorige inskrywing vir meer detail.

Tot later!

Monday 10 January 2011

Kookboek Weg Gee

In Desember het Michele, van Quilting Gallery, die nuwe kookboek "Holiday Traditions", vrygestel.

Om die vrystelling van die Holiday Traditions kookboek te vier, is TWEE stelle kookboeke aan my beskikbaar gestel, om weg te gee.


Elke stel bestaan uit die 2009 Quilter's Cookbook, asook die nuwe Holiday Traditions. Die 2009 kookboek bestaan uit 119 resepte en 76 foto's van kwilte. Die Holiday Traditions bestaan uit 135 resepte en 72 foto's van kwilte. Die goeie nuus is dat julle nie hoef te wag om die boeke in die pos te kry nie. Die boeke kom in 'n .pdf formaat, dus kan ek dit net aan jou epos. Hou asseblief in gedagte, dat die boeke is in Engels.

Ek het verlede jaar beide die kookboeke aangekoop. Hierdie boeke is ideale geskenke, en 'n goeie verwysing na heerlike disse. Die resepte kom van reg oor die wêreld af, dus is daar iets vir almal om te probeer.

Hoe om te wen?

BAIE BELANGRIK: Omdat ek die boeke vir jou per epos stuur, moet ek jou epos adres hê. As ek dit nie het nie, kan ek nie die boeke aan jou stuur nie. Ek sal ongelukkig dan 'n nuwe naam moet trek. Indien jy verkies om anoniem te bly, kan jy jou epos adres aan my stuur by: huisvlyt@gmail.com, en nogsteeds jou kommentaar los. Ek wil regtig graag hierdie boeke weg gee, en ek wil nie iemand se inskrywing van die hand wys, omdat ek nie hul kontak besonderhede het nie.
  • Eerste kans: Laat 'n boodskap agter, waarin jy jou eerste kookboek noem (kan jy nog onthou wat dit was?). Myne, as ek reg onthou, was "Klein kook en geniet", deur SJA de Villiers en Eunice van der Berg. En hy staan nogsteeds in my boekrak. Ek het 'n paar gunstelling resepte daarin.
  • Tweede kans: Indien jy 'n kwiltwerk blog het, registreer jou blog by Quilting Gallery en los nog 'n boodskap, waarin jy vir my noem dat jy dit gedoen het. Of, indien jy reeds geregistreer is, laat my ook weet. Indien ek jou blog daar kan opspoor, kry jy nog 'n inskrywing.
  • Trekking van die wenners vind plaas op 22 Januarie.
  • Jy hoef nie 'n follower te wees om deel te neem nie
Indien jy nie een van die gelukkige wenners is nie, kan jy steeds die boeke aankoop. Kliek op die prentjies, op die linkerkanste panneel, en dit sal jou reguit na die webwerf toe neem.

Sterkte... :-D

Tuesday 4 January 2011

Nuwe jaar, nuwe dinge

Voorspoedige Nuwe Jaar!!!

Hoop julle het almal 'n heerlike fees seisoen gehad, dat julle te veel geeet het, en dat julle baie tyd met jul geliefdes kon spandeer.

Ons het die Nuwe Jaar rustig in gewag. Ek en Manlief het na musiek geluister, en later op die dak gaan staan sodat ons na die vuurwerke kon kyk. Mauritians is BAIE lief vir vuurwerke. Ek wou graag 'n video oplaai, om julle te wys hoe Nuwe Jaar hier verwelkom word, maar die prent is uit fokus uit, en die verwerkingsprogram wou nie die video inlees nie...sug. Dus, julle sal my maar net moet glo as ek sê dat ons 'n het fantastiese vertoning gehad, met 'n kuslyn vol vuurwerke en geraas.

Ek is nie lief vir Nuwe Jaar Voornemens nie. Tog wil ek hierdie jaar vir my 'n paar kwiltwerk doelwitte stel. Ek het op 5 projekte besluit, wat ek hierdie jaar wil doen. Sommige van hulle, sal julle opmerk, is oorgebring vanaf verlede jaar. My hoop is om al hierdie projekte voltooid te hê teen die einde van die jaar. Daar is so baie idees en patrone wat ek wil probeer, maar het besluit om 'n aan 'n paar te werk, eerder as om 'n klomp te begin, maar een of twee deur die jaar te voltooi. Die projekte is almal op die regterkanste paneel gelys. Ek glo daar sal 'n onbeplande projek of twee ook hul verskyning maak, maar ek hoop om nie baie van hulle te hê nie.

Ook, wil ek graag hierdie jaar minder materiale aankoop (en nou lag almal wat weet hoe moeilik dit is). Volgens my skatting, het ek genoeg materiaal vir al my beplande projekte, behalwe die Marbles kussing. Ek koop die materiale aan soos ek aan elke kussing werk. My hoop is om die "stash" bietjie te verminder. Ons het beperkte plek, en my materiale begin nou te veel raak daarvoor. Dalk sal dit 'n bietjie kreatiwiteit in my aan wakker...

Terloops, besoek "Astrid"  se nuwe blog: Red Needle's World of Photography. Daar is 'n paar oulike foto's van haar besoek aan Noorwee.

Wel, tyd vir my om bietjie met die naalwerkmasjien te speel...

Groete vir eers!