Showing posts with label Cooking. Show all posts
Showing posts with label Cooking. Show all posts

Monday, 20 December 2010

Fish Frenzy en Quilting kookboek

Ek het uiteindelik my posstuk gekry, wat ek al vanaf Oktober voor wag!!!

Erin, van One Piece at a Time, het 'n kompetisie gehad, waarin jy 'n naam moes gee aan een van haar appliek visse. Die prys was die Fish Frenzy patroon.


Alhoewel my naam vir die vis nie gekies is nie, was my naam egter getrek vir die prys  :-D  Dit het verlede week gearriveer. Iewers in die pos sisteem is daar nog 'n Fish Frenzy patroon, met my naam op, maar dit het nooit sy eindbestemming bereik nie. Erin was gaaf genoeg om weer 'n patroon aan my te stuur, en dis die een wat ek nou ontvang het. Ek kan nie wag om hiermee te begin nie, maar daar is eers 'n paar ander projekte wat ek moet voltooi, voordat ek my "vissies" kan maak. *sug*

Die van julle wat lief is vir tyd in die kombuis spandeer, of opsoek is na nuwe idees vir disse om voor te sit op die tafel, gaan maak 'n draai by Quilting Gallery - hulle het pas hul tweede kookboek vrygestel - Holiday Traditions. Die eerste kookboek is ook nog beskikbaar.


In beide kookboeke is daar heerlike resepte om te probeer, stories wat vertel word, en kwilt projekte om te bewonder. Die boeke kom in 'n .pdf formaat, dus hoef jy nie te wag dat dit in die pos kom nie. Dit kan dadelik afgelaai word, sodra jou aankope voltooi is.

Geseënde Kersfees aan julle almal.

Groete vir eers! 

Friday, 17 December 2010

Kersfeeskoek en Borduurwerk

Ek moet erken dat die laaste paar dae sukkel ek om my aandag op een taak te hou. Ek spring rond tussen werk, huis en Kersfees voorbereiding, en dit lyk nie of ek veel vordering maak met enige iets nie. Voel julle ook so?

Die take wat ek wel voltooi het, tot dusver, is Vrugtekoek bak en 'n bietjie borduurwerk.


Ek moet nou bieg en ook noem dat ek nie kans sien om die koek te versier met harde-versiersel nie. Dit het net na te veel werk geklink. Buitendien, hierdie koek het net 60ml sjerrie in, waar die ryk vrugtekoeke gewoonlik begin met 100ml, en dan elke week nog 'n bietjie sjerrie by kry om dit klam te hou. Dus glo ek nie dis nodig vir die versiering nie. En die prentjie in die kookboek, het ook geen versiering gehad nie (vir wat dit werd is)! Manlief noem gereeld dat die huis ruik nou na 'n drank winkel/kroeg, met die geur van vrugtekoek in die huis...Wonder of hy skimp vir 'n stukkie koek :-)

My kussing #3 se borduurwerk is nou voltooi. Nou moet ek die "toebroodjie" maak en dit kwilt. Vandaar maak ek die agterkant en dan is dit klaar. Sal kyk of ek lank genoeg kan stil sit om dit te doen. 


Hier is 'n paar naby skote van die borduurwerk:




Ek kry gereeld vrae oor watter "Block of the Month" of projek ek vanaf werk. Hierdie is egter nie 'n Sew Along projek nie. Ek het vroeg in die jaar 'n boek oor appliek gesoek, en het hierdie boek gekoop:


Al die kussing oortreksels wat ek tot dusver gemaak het, sien hier en hier, en ook nou die derde oortreksel, kom uit hierdie boek uit. Daar is in totaal 13 projekte. 12 van hulle kan as kussing oortreksels gemaak word, en die 13de projek is 'n muurbehangsel. Dis 'n uitstekende boek, en elke stap en borduur steek word deeglik bespreek. Die boek is baie duidelik, en gebruikersvriendelik. Alhoewel daar baie riglyne in die boek is, word die spasie vir jou gegee om 'n bietjie van jou eie "touch" in die projekte in te werk. Vir mense wat belangstel in appliek, kan ek hierdie boek voor aanbeveel. Daar is egter baie appliek tegnieke, en hierdie boek behandel slegs een van hulle, maar jy kry baie vinnig die idee van hoe alles werk. Ek het die boek by Craft Connection gekoop

Geniet julle voorbereiding vir Kersfees, en geniet die feesseisoen.

Tot later

Tuesday, 5 October 2010

Lekkers, materiale en uitstappie

Wel, ek moet erken dat ek nie veel kwiltwerk gedoen het die laaste week nie. Lyk my dat tyd was baie skaars vir my - maar ek was wel besig met ontdekkings:

Ons het verlede week Turkish Delight gemaak. Na vele onsuksesvolle pogings, het ons op 'n resep af gekom waarmee ons gelukkig is. Ongelukkig het ek nie foto's geneem nie. Soos ek genoem het, ons het vele pogings aangewend, en by hulle het ek elke keer foto's geneem, net om teleurgesteld te word. Indien julle die resep wil probeer, kan julle dit hier kry. Dis die resultaat van ons harde werk:


Daar was baie meer in die boksie, maar ons het intussen heerlik gesmul aan die lekkerny. En dit was (en is steeds) lekker!!!

Die Brown Bag Quilt Contest is ook nou op volle dreef. Ek het Vrydag my materiale ontvang vanaf Brenda, my uitruil "partner". Sy het vir my hierdie lieflike materiale gestuur:


Hmmm....wat kan ek met hierdie materiale maak. Dis glad nie lelike materiale nie!!! Dalk miskien bietjie buite my gemaklikheid sone, tog is dit mooi drukwerk.  Ongelukkig het ek vergeet om foto's te neem van my materiale, wat ek aan Brenda gestuur het. Neem aan ek was te opgewonde om van die goed ontslae te raak :-)

Hierdie naweek het ons onself verbeel ons is Tarzan en Jane. Ons het saam met "Astrid" gaan stap in die berge. Ons het 'n wandelpad gevolg wat strek vanaf Petrin tot by Grand Rivier Noire (Great Black River). Ek het nie besef hoe (on)fiks ek is nie, en die staproete was vir my 'n uitdaging. Tog het ek en manlief die bul by die horings gepak, en ons het 'n heerlike dag gehad. Ons het 'n verskeidenheid plante groei gesien, soos hierdie palmboom;



asook 'n paar wilde diere, soos hierdie klein wilde varkie:

(hy en sy boetie was te vinnig vir die kamera, so ons het net die agterkant van die kleinding afgeneem)

asook hierdie papegaai/parkiet.


Die uitstappie het ons 7 uur geneem. Ons het nie die volle roete gevolg nie, want ons moes by die kruising, met die Black River, omdraai, sodat ons betyds terug kon wees om by ons motor uit te kom. Ons wou beslis nie die aand spandeer in die berge nie. Ons het darem vele kere gestop, en het ook 'n paar happies kos en drink goed ingeneem. Die moeilikste deel van die hele roete - vir my - was die "trappe" wat ons moes klim. Dis 'n baie steil afdraande, en dis opgebou met hout trappies, maar aangesien dit daardie oggend gereën het (ja, ons het in die reën begin stap) was alles vol modder en baie glad. Ek moes 'n paar keer aan bome vasklou, want anders sou ek gegly en geval het. Met die terugkom slag, het die grond begin uitdroog, en was die klim baie makliker. Ons was BAIE moeg toe ons uiteindelik die motor bereik het, en my bene het soos lood gevoel. Die uitsig was beslis die pyn werd.

Riviere Noire (Black Rivier)

Deel van die Gorges

(Julle kan op enige van die prente kliek om dit groter te maak)

Julle kan meer stories en foto's sien oor ons uitstappie, op "Astrid" se blog: Grandma's Red Needle

Tot volgende keer!