Showing posts with label BOM. Show all posts
Showing posts with label BOM. Show all posts

Saturday, 21 April 2012

Uiteindelik klaar!

Ek dink, oor die afgelope 2 jaar, het ek genoeg gepraat oor die kwilt, dus sal ek net die foto van die finale produk vir jul wys...

I think I spoke enough about this quilt the last two years, so I will just show you the photo of the finished product...


Monday, 18 April 2011

Raggedy - bokant voltooi

Nog 'n kwilt se bokant is voltooid!

My Raggedy Ann kwilt se bokant is ook nou voltooid. Dit het lank geneem om die laaste borduurwerk klaar te kry. Ek het die laaste ruk min tyd gehad om te sit en borduur. Indien ek tyd het, spandeer ek dit agter die masjien besig met stikwerk. Wanneer ek wel tyd gehad het vir borduurwerk, was dit in die aand, en die beligting was dan nie ideaal nie - my oë is nie van die beste nie, selfs met 'n koplig op my kop!

Hier is my vordering sedert ek vir julle laas gewys het:

Blok 10


Blok 11


Blok 12


En laastens...Ta-Da...


...die volledige bokant, met blokke, shashing, en border.

Indien julle belangstel om hierdie patroon te maak, kan julle na The Painted Quilt gaan. Die patroon is op die regterkantste paneel. Of julle kan op die Raggedy and Friends prentjie kliek (op my linkerkantste paneel).

Dankie Kaaren van The Painted Quilt vir hierdie wonderlike projek wat ons kon volg!!

Tot later!

Thursday, 17 March 2011

Naaldwerk en appliek

Wanneer 'n mens druk besig is, waardeer jy die oomblik of twee wat jy net kan stil sit...en asem haal. Die laaste maand het ek min sulke oomblikke gehad - en het hulle baie waardeer. En wat 'n meer ontspanne manier om die "my tyd" te geniet, as om 'n paar lappies aan mekaar te werk, of om materiaal te sny, en prentjies te maak?!

Ek het begin met die volgende marble kussing se voorbereiding. Die appliek stukkie is uitgesny, geposisioneer en vas gestryk op die agtergrond. Nou moet die organza laag bo-oor kom, en dan kan ek met die borduurwerk begin.


Ek het ook ingehaal met die Raggedy blokke. Aangesien die laaste 3 gelyktydig vrygestel is, het ek besluit om dit as een projek vir die maand te maak, in plaas van drie projekte vir drie maande - soos oorspronklik beplan. Die borduurwerk moet nog plaasvind, maar die blokke is almal klaar.

Blok 10


 Blok 11


Blok 12



Diegene wat die Raggedy BOM volg, sal ontdek dat my Blok 12 is anders. Ek het 'n "patroon fout" gemaak, maar ek is tevrede met hoe dit lyk, en is dus nie van plan om die blok uitmekaar te torring, om twee blokkies om te draai nie. Ek het eers my fout ontdek nadat ek die sashing aangewerk het. Dit kom daarvan as jy sonder 'n beker koffie begin naaldwerk doen!

Die res van die maand gaan 'n stadige een wees rakende hierdie projekte, aangesien almal borduurwerk moet kry - en dit vat baie van my tyd. Maar ek sal julle op hoogte hou oor hoe dinge vorder.

Waarmee is julle besig op die oomblik?

Groete vir eers!

Wednesday, 2 March 2011

Vordering

Ek het uiteindelik bietjie tyd gekry om te sit met naald en gare, en Blokke 6-9 te voltooi van die Raggedy BOM. Ek het meeste werk gedoen oor die naweek, asook in die aande terwyl ek vir Manlief gewag het om by die huis te kom.

Hier is my vordering:

Blok 6 (uiteindelik!)



Blok 7



Blok 8



Blok 9



Blokke 10-12 se instruksies is die 20ste Feb vrygestel. Dit sluit ook die instruksies in om die projek te voltooi (slegs die bostuk, nie die rugkant of omboorsel nie). Dus gaan ek goed besig wees vir 'n rukkie. Ek het ook nog die volgende Marble kussing om voor te berei en aan te werk. Een ding op 'n slag!

Julle is seker al moeg vir hierdie soort foto. Hier is die 9 voltooide blokke uitgelê op die vloer, om 'n prentjie te vorm van hoe die kwilt gaan lyk:


Ek raak meer en meer opgewonde, hoe nader ons kom aan die einde van die projek. Ek kan nie wag om te sien hoe dit gaan lyk as dit klaar is nie. Wat ek wel weet is dat ek tot dusver BAIE tevrede is met die kwilt.

Wel, laat ek aan die werk spring vir die voorbereiding van die laaste werk en die shashing en borders en rugkant en en en...Julle kry die prentjie.

Praat later weer!

Monday, 24 January 2011

Naaldwerk naweek

O, wat 'n lieflike naweek het ek beleef! Manlief het tyd met sy rekenaar spandeer, en ek het tyd spandeer agter die sny tafel en naaldwerkmasjien. Ek het so baie mikpunte bereik, dat ek besluit het om myself te bederf.

Ek het my Brown Bag Quilt voltooi. Daar is nou net die klein "tweaking" wat gedoen moet word. Ek wys vir julle die rugkant, vir eers. Die groen, donkerblou en rooi is al wat oorgebly het van die materiaal wat oorspronklik aan my gestuur is, en die bietjie wat ek moes by koop. Die blou met die prentjies op, pienk en wit is uit my "stash". Dus het ek al die moontlike bruikbare materiale gebruik vir hierdie kompetisie, asook 'n bietjie "stash busting" gedoen. Dis 'n wen-wen situasie vir my!



Daarna het ek aan die Raggedy Blokke 7 tot 9 gewerk, wat Donderdag vrygestel is. Hulle is almal vasgewerk, maar moet nog geborduur word. Blok 6 wag ook nog om geborduur te word. Ek het nog nie lank genoeg tyd gehad om te sit en borduurwerk te doen nie. Blyk my ek begin agter raak!

 
Na ek alles voltooi het, het ek besluit dis tyd om vir my 'n nuwe sak te maak. Hier is my ou sak:


Hierdie was die heel eerste kwiltwerk projek wat ek gedoen het. Ek het 'n klas bygewoon, waar ons hierdie sak gemaak het. Hierdie sak bestaan uit 8 kleure. Die patroon is so dat jy enige iets van 2 kleure tot 72 kleure kan gebruik. Maar ek dink tog dat 2, 4 en 8 kleure vertoon die beste.

My ou sak is al twee jaar lank in diens, en dit begin te wys:


Die handvatsels is al onherstelbaar;


 en die buitekant het begin los skeur (al het ek dit voorheen herstel), en die kleure het begin verbleik a.g.v. die son.

Wat my betref, was dit tyd vir 'n nuwe een:

 
Ek het hierdie keer besluit om iets meer neutraal te maak. Ek het twee materiale gebruik. Die gekleurde materiaal het bruin, groen, goud en blou in. Dus is dit 'n two-tone/multi kleur skema. Ek neem my sak orals saam, selfs na kliënte toe. Dus moet ek altyd op my beste lyk. Ek glo hierdie sak pas in daardie "profiel".

Wel, dis my naweek. Hoe was jul naweek?

Groete vir eers!

Wednesday, 1 December 2010

Raggedy en Marbles

Wel, nadat ek my Kersfees kwilt klaargemaak het, is ek uitgeput. Ek het ek my masjien geolie en skoongemaak, en dit gebêre. Tog het ek wel aan die volgende twee projekte gewerk:

Raggedy #5 is voltooi.


Sjoe, ek kan nie glo ons is al amper half-pad met die projek nie! 5 uit 12 blokke is al klaar. Ek kan nie wag om hierdie kombersie klaar te maak nie. Ek sien alreeds hoe ek onder hierdie kombers sit, en tv kyk of boek lees, hierdie winter... Om die groter prentjie te kry van hoe die kwilt op die oomblik lyk, het ek al 5 blokke uitgepak op die grond...


Is dit net ek, of sien julle ook 'n lekker beker Cappuccino met sjokolade sprinkels...:-D

Verder het ek aan die volgende Marble kussing begin werk. Die appliek stukkie is uitgesny en vas gestryk. Ek het al begin met die borduurwerk rondom die middelste blom, en die stele van die omringende blomme. Moet nog net een steeltjie vaswerk.


Die boonste laag materiaal is organza. Dit work gebruik om die kleure van die appliekwerk te verdof, en daarom word dit skadu-werk genoem. Jy plaas jou appliek bo-op die agtergrond, en plaas dan die organza bo-oor. Die borduurwerk gaan deur al drie lae materiaal. Wanneer dit klaar is, dan kom die maklike en vinnige deel: kwiltwerk en die maak van die agterkant van die oortreksel.

Verder, moet ek met skaamte erken, het ek nie veel gedoen nie. Ek dink die "holiday mood" het nou die beter deel van my gekry.

Tot later!

Monday, 8 November 2010

Kerskwilt - KLAAR!!!

Dit is klaar, dit is klaar, tra la la la-la...!!!

Hier is my Kersfees kwilt tra la la la-la:
Dis seker nie so noemenswaardig nie, maar ek is baie trots op die werk wat ek op hierdie kwilt gedoen het. Siende dat ek skaars 'n rukkie terug ontdek het hoe om FMQ te doen op my masjien, dink ek die werk wat gedoen is, is baie goed. Ek het baie tyd gehad, siende dat ons nou 'n paar vakansie dae gehad het, en dat manlief vir 'n rukkie weg was met 'n besigheids-projek. So, ek het agter die masjien gaan sit, baie mooi met hom gepraat, en die volgende het uit die naald en gare verskyn tot op die kwilt:

Tussen die kleiner prentjies, het ek drie verskillende prentjies, in rooi, gekwilt. Die eerste een is die ster...


...tweedens is die Poinsettia...


 ...en derdens 'n stel klokkies (dink hulle is die moeilikste om raak te sien).


Rondom die middelstuk, het ek 'n kruiper met blare (probeer) kwilt, in groen...dink ek moet nog oefen aan die punte van die blare...dit lyk 'n bietjie rond :-)


(soos met al die ander, indien julle op die prentjies kliek, word die prentjie groter)

Dit voel vir my asof ek 'n berg uitgeklim het - ek het nie seer bene of longe sonder asem nie, maar die oorwinning van die klim! Wonder wat ek volgende kan kwilt...

Ek het tussen-in ook aan blok #4 van die Raggedy BOM gewerk.

Tot dusver, was hierdie my gunstelling een om te borduur.

My "Brown Bag" kwilt staan op die oomblik stil. Ek het nie genoeg blou nie, en moes dit aankoop...grrrr...Ek het so gehoop dat ek al die materiale kon gebruik, sonder om ekstra aan te koop, maar die "goeie fee" was nie aan my kant nie. Hopelik sal ek my pakkie blou materiaal binne die volgende twee weke of so kry.

Ek dink my masjien het so bietjie van 'n time-out verdien. Ek het 'n paar hand-werk projekte wat ek kan doen. Dink ook ek gaan dinge nou bietjie stadiger vat, maar nie heeltemal dood stop met my projekte nie. Net tot na Kersfees en Nuwe jaar, dan tel ek weer spoed op.

Tot volgende keer.

Ps. For those of you who do not understand Afrikaans, may I teach you something... The word "Kwilt" means "Quilt", and is pronounced the same. The Translator understands and translate the word "kwiltwerk" to "quilting", but it still gets confused with the word kwilt. Thus, everywhere you see the word kwilt, substitute it with the word quilted, or quilt (noun or verb)

Friday, 22 October 2010

Besig, besig, besig...

...maar het min om daarvoor te wys.

Al ooit die gevoel gekry dat jy soms jou tot die dood toe werk, en dan het jy nie eers resultate, as bewyse van jou harde werk nie? Dit is baie frustrerend, en presies hoe ek voel die afgelope twee weke. Ek was verskriklik besig, maar kan nie vir julle iets wys nie. Ek moet erken dat, ek min kwiltwerk gedoen het, maar ek kon darem so bietjie tyd spandeer agter die masjien.

Kom ek wys julle wat ek op die oomblik aan werk:


Hierdie is 'n klein blik op my Brown Bag Quilt Contest projek. Die middelpunt is voltooi, maar ek werk nog aan die res. Dit blyk of ek genoeg materiaal oor gaan hê, om die agterkant ook te voltooi. Yeah!


Die kwiltwerk van die Kersfees muurbehangsel, gaan maar stadig. Ek het oorspronklik die toebroodjie gemaak met spelde, maar dit het nie so lekker gewerk nie. Ek het later die spelde verwyder, en dit met gare vervang. Dit gaan nou beter, maar ek sukkel steeds so bietjie. My mikpunt is om dit voor Kersfees 2010 klaar te maak!!!

En dan natuurlik - Blok 4 van "Raggedy and Friends", wat Woensdag vrygestel is. Ek het die stukke gistraand gesny. Sal kyk wanneer ek tyd het om dit aanmekaar te stik en borduur.

Dis my lysie "to do's". Hoe lyk julle s'n?

Groete vir eers!

Monday, 27 September 2010

Natuur tonele en BOM

Ai, wat 'n lieflike naweek! Net 'n jammer dit was so kort!

Die weer begin sy warm strale uit steek, en daarmee saam begin ons die mooiste sonsondergange kry. Dis natuurlik een voordeel om op die tweede verdieping bly - hierdie prentjie kan jy nie mis nie, al wil jy:


Ongelukkig het die foto bietjie donkerder uitgekom as wat ek gehoop het. Wanneer die son hierdie kleur is, is ons hele leef area en kombuis oorspoel met rooi en oranje kleure. Dis te ongelooflik om te beskryf.

Ons was gister vir 'n kort rukkie strand toe. Dit was heerlik om weer  die seelug in te asem, en die wind in die hare te voel. Ons was nie baie lank daar nie - die strand was dig gepak, tog het ons dit gate uit geniet. Ek het 'n storie boek geneem, en lekker in die boom se skaduwee gelê en lees.  Die wind het bietjie gewaai, en natuurlik was dit die regte verskoning vir 'n klomp wind- en kite-surfers om hul talente ten toon te stel. Dis is die prentjie wat ons gesien het, wanneer ons uitgekyk het oor die waters (om beter te sien, kliek op die prentjie om dit groter te maak):


Intussen het ek aan Raggedy BOM blok 3 gewerk, en het dit hierdie naweek voltooi. Hierdie keer het ek nie probleme gehad met verkeerde naat toelatings nie - hahahahaha!


Wel, dit was my naweek. Hoop julle het ook 'n wonderlike naweek gehad.

Tot later!

Tuesday, 7 September 2010

Produksielyn

Vandag is net 'n "update" op al die projekte waaraan ek tans werk. Sommige se vordering is uitstekend terwyl ander projekte bietjie aandag nodig het.

Na al die drama verlede naweek, met al my naat toelatings wat nie wil saam speel nie, het ek baie hard gewerk om alles netjies te kry. My borduurwerk het miskien nog bietjie oefening nodig, maar ek is baie tevrede met hoe die BOM blokke uitgekom het. Ek het letterlik die hele week, na my laaste inskrywing, net borduurwerk gedoen. Dink dis tyd dat ek 'n "chance of scenery" uitoefen.

Hier is Raggedy and Friends Block 1



En hier is Raggedy and Friends Block 2


Nou is ek reg vir Raggedy and Friends Block 3, wat om-en-by die 20ste vrygestel sal word.

Verder is ek besig met my kussing oortreksel nommer 2. Ek is klaar met al die borduurwerk en die voorkant is afgewerk. Ek wag net vir my materiale om die "ruffle" te maak, dan is hierdie dame afgehandel. Ek het gister die kennisgewing gekry dat my materiale by Doeane is (sien vorige inskrywing), maar ek is nie seker wanneer ek die kans gaan kry om by Port Louis uit te kom nie. Sal my manlief vra of hy dit kan gaan afhaal.

Hier is die "werk-in-proses" kussing oortreksel 2/12





Ek het ook intussen bietjie tyd gehad om aan die Kersfees kwilt te werk. Ek het rame om elke klein prentjie vasgewerk. Ek moet nog die middel blok doen, en dan die hele ding aanmekaar vaswerk. Dis hoe die klein prentjies met hul rame lyk:



Nou vir iets wat klaar is! Hier is die sterre wat ek in van my eerste inskrywings oor gepraat het.


Hulle het my bietjie 'n kopseer gegee, want die batting het bly gly onder die naald. Blyk my dat ek te veel batting gebruik het. Ek wou graag die sterre baie "puffy" laat lyk het. Later het ek egter al die ekstra batting verwyder en met een (klein sterre) of twee lae (groot sterre) batting gewerk. Maar nou-ja, hulle lyk nie te sleg nie. Dink tog ek sal volgende keer dinge 'n bietjie anders aanpak.

Soos jul kan sien, sit ek nie stil nie. Ek moet seker maar hier klaarmaak en weer begin werk...

Terwyl ek so hard aan die werk is, is daar darem iemand om my op te beskerm as manlief nie by die huis is nie...



Hierdie is Groenes. Hy is my lyfwag wanneer ek alleen tuis is. Tans is sy vroutjie swanger, en sy bak heeldag in die son by ons badkamervenster. Groenes wandel soms die hele huis vol, maar is grootliks altyd in die badkamer, of in die studeer kamer, en soms in ons slaapkamer. In vergelyking met die bruin geitjie, is hierdie geitjie baie gemaklik wanneer ons in die omtrek is. Inteendeel, hy het nie eers geroer terwyl ek hierdie foto van hom geneem het nie! En ek het baie naby aan hom gestaan!

Tot volgende keer!

Tuesday, 31 August 2010

Ek het my les geleer!

Wel, wat 'n naweek! Ek was so opgewonde toe ek Donderdag die kennisgewing kry om 'n pakkie by die poskantoor moet gaan haal. Ek het presies geweet wat dit was, en ek kon nie Vrydag gou genoeg in Port Louis (Mauritius se hoofstad) kom, om my pakkie te gaan haal nie. Soms gebeur dit dat die Doeane, by die poskantoor, jou pakkie afneem, en dan moet jy die inhoud verklaar. Ander kere is ons baie gelukkig en dan glip die pakkie deur. Met hierdie geval moes ek die inhoud verklaar... Ek kan hul ook nie kwalik neem nie, want ek het 10 meter se materiaal bestel...

In Port Louis aangekom, en na al my werks verpligtinge daar afgehandel is, is ek na die poskantoor om my pakkie te gaan optel. Hier is 'n foto van hoe die hoofweg (motorway) lyk, wat aan die buite-kant van Port Louis verby gaan, met die Stad in die agter grond, en die hawe aan die regterkant (nie sigbaar, maar vir die interessantheid).



En hier is die ander kant. Die foto's is geneem vanaf die Doeane se oprit. Ongelukkig was daar te veel voertuie, anders het ek 'n foto van Doeane ook geneem.



By die huis gekom, het ek onmiddelik die pakkie oopgemaak en my materiale uitgepak. Ek het Saterdag die heel dag spandeer om die materiale te sny vir die Raggedy and Friends BOM van Kaaren by The Painted Quilt. My probleem het egter ingekom, toe ek die stukke begin aanmekaar heg...



Wat 'n gemors!!! Niks wou reg pas nie. Dit kom toe uit dat ek my naat toelating 3/8" maak en nie 1/4" soos wat dit veronderstel is om te wees nie. Duidelik kan 1/8" 'n baie groot verskil maak. Blyk my dat ek plaas elke keer die materiaal net 'n klein bietjie verby die naaldwerk voet, in plaas van onder die voet...Na 'n halwe dag van kla oor hoe dom ek is, en alles weer lostrek en her vaswerk, kan ek darem nou sê dat alles pas snoesig. Ek is besig met die borduurwerk, en sal hopenlik later hierdie week vir julle die eindproduk wys.

Wel, ek het my les geleer...die harde manier.

Tot later!

Elzaan