Hierdie naweek het ons 'n paar kragonderbrekings gehad, en in plaas van om te sukkel met 'n masjien, het ek eerder materiale en template voorberei.
Alhoewel Kersfees nog ver is, word baie kersmateriale nou al beskikbaar gestel. Ek het die lieflikste materiale bestel vanaf die VSA, en wag vir die pienk kaartjie in die posbus, om my in kennis te stel dat ek 'n pakkie moet gaan afhaal... Ook, het ek begin om sterre-template te maak, en die patroon op die gekose materiale te merk (
Hoop die foto's is duidelik genoeg. As jy lank genoeg kyk, dan sal jy sterre geteken sien op die materiale).
Ek het ook die materiaal stroke begin sny, vir die omboorsel, van hierdie outjie:
Op die oomblik kan ek nie die hele prentjie wys nie, want (a) dis 'n geskenk en (b) ek is besig om die helfte van die kwilt los te torring omdat die gare bly breek. So dit lyk maar bietjie woes.
...Die reuke vanaf die kombuis se kant is heerlik! Ons het die naweek 'n tros piesangs uit ons tuin gekry, en alhoewel ek lief is daarvoor, kan ek net soveel piesangs eet. Hulle het intussen begin oorryp raak, en ek moes vinnig spring om hulle te red. Die oplossing - piesangbrood! *snuif-snuif*... hmmm...ruik baie lekker. Dink ek moet gaan kyk...
Tot 'n volgende keer!
Elzaan