Wednesday, 24 August 2011

Tafeldoek - bokant klaar

My tafeldoek se bokant is klaar.


Ek het egter tot my skok besef dat ek nie genoeg batting het nie. Nee, wag, ek het batting maar dis vir my Raggedy-quilt. As ek daarvan sou gebruik vir die tafeldoek, is ek onseker of ek genoeg sal oorhê vir die quilt self. Daarom het ek besluit om eerder batting te gaan koop. En, om te hou by my voorneme van nie materiale aankoop nie, het ek genoeg materiaal oor om die agterkant ook te maak! Yeah!

Alhoewel dit 'n tafeldoek is, en batting seker nie nodig is nie, wil ek tog iets hê wat die nate kan "uitkanselleer". Ek het tans 'n tafeldoek - wat ek by 'n craft market gekoop het. Dit is patchwork met 'n agterkant, geen batting, en die nate is irriterend. Ek wil dit nie met my tafeldoek hê nie, en daarom wil ek batting byvoeg.

'n Interessante by-produk wat die tafeldoek gelewer het:


Omdat die borde se middel uitgesny is en vervang is met 'n ligte-kleur materiaal, het ek nou 'n klomp sirkels. Voeg 'n paar knope by, en... wat dink julle gaan ek maak?

Groete vir eers!

Friday, 19 August 2011

Kwilte en nie-kwilte

Kwilte

Ek bied aan julle, met groot blydskap, Manlief se voltooide kwilt:


Ek het hierdie kwilt verlede naweek reeds voltooi, maar met die water beperkinge het ek eers gewag tot my volgende wasgoed-dag, voordat ek dit gewas het. Manlief het sy kombers alreeds vanoggend ingewy en is baie tevrede met sy (laat) verjaardag geskenk.

Ek het baie goed uit hierdie kwilt geleer:
1. Wees geduldig!
2. Jou bui gaan 'n invloed op jou kwiltwerk hê
3. Terwyl jy kwiltwerk doen, maar seker jy weet waar op die kombers jy is, en waarheen jy oppad is met die naald
4. Die einde voel vinniger as die begin
5. FMQ is nie so erg nie, dit kos net oefening

Steeds, ek is verlig dat dit klaar is.

My tafeldoek vorder ook baie goed:


Hierdie eerste stel blokke se appliek is almal vas gestryk en vasgewerk met 'n lopende-steek op die naaldwerkmasjien. Ek wil hê die kante moet net so bietjie uitrafel, en daarom het ek nie 'n zig-zag steek gebruik nie.


Hierdie stel se appliek is vas gestryk, maar nog nie gestik nie. Ek moet nog twee blokke maak, dan het ek genoeg om my tafel te bedek. Ek geniet hierdie projek verskriklik baie. Die proses is redelik vinnig, en ek sien onmiddellike resultate - anders as manlief se kwilt en my Raggedy-kwilt (wat nog wag vir sy kwiltwerk). Ook, dis so lekker om met verskeie kleure en drukwerk te speel, maar ek dink dit praat egter vanself deur net na die foto's te kyk :)

Nie-kwilte

In die Engelse taal is daar 'n baie gepaste gesegde wat lui: "One man's trash is another man's treasure."

Van oggend toe ek die vullis uitsit, sien ek hierdie pragtige krat in die vullis hoop van ons bure:


Goed, ek erken dat die krat lyk nie op sy beste nie, maar dis wat dit so uniek maak. Natuurlik kon ek dit nie oor my hart kry dat die krat weggegooi word nie, so toe neem ek dit vir my. Ek glo dat nadat ons die krat skoongemaak het, bietjie gom hier en daar en 'n ligte skuur, sal dit perfek wees om my kwilte in te toon.

Laastens, 'n paar aand-foto's in Mauritius:


Laaste lig op die strand in Tamarin


Le Morne met die liggies aan die voet van die berg (hierdie is 'n baie donker foto. Ek kon dit nie ligter kry nie).

Nou-ja, laat ek die laaste twee blokke van die tafeldoek gaan maak.

Groete vir eers!

Saturday, 6 August 2011

Kussing #4 en Teepotte

Uiteindelik! Een van my projekte is klaar!


Hierdie is die vierde kussing oortreksel/patroon uit die boek Shadow Applique deur Hetty van Boven. Ek het nog 8 oortreksels om te maak. Elkeen net 'n bietjie moeiliker as die vorige een.

Hier is 'n kyk na die borduurwerk wat in hierdie kussing oortreksel ingegaan het:



En hier is die kussing saam met haar susters. My ontwerp is natuurlik die "odd one out". Ek het reeds die materiale reg vir Kussing # 5.


Ek moet sê dat die warm rooi staan baie uit tussen die koel blou, pers en groen. Sjoe! Alhoewel hierdie projek in totaal baie lank neem, is dit 'n pret projek om jou sitkamer mee op te tower. Ek het ook nie 12 kussings wat oorgetrek moet word nie. Soos julle hier op die foto sien, is die totaal van my sitkamer kussings. Maar dit gaan my nie terughou nie!

Intussen het ek ook twee teepotte gemaak vir die tafeldoek-projek:



Die patrone kan julle kry op FatCat Patterns van Sindy Rodenmayer. Vir my tafeldoek gaan ek die twee patrone "Tea Cup Curio" en "Tea Pot Curio" meng.

Daar is ook vordering op Manlief se kwilt. Ek hoop om hierdie naweek tyd daaraan te spandeer. Die einde is in sig!!!

Later!

Monday, 25 July 2011

Werk in Proses

Wel, niks nuuts om regtig vir julle te wys nie. Dus wys ek maar die (stadige) vordering van my huidige projekte.

Die oudste projek is die kussing oortreksel #4.


Ek is amper klaar met die borduurwerk. Nog net die stuifmeel moet op die blomme borduur word, dan kan ek die kwiltwerk doen en die rugkant aanwerk.

My groot projek is Manlief se kwilt. Sy verjaarsdag is al iets van die verlede, maar die kombers is als behalwe klaar :-( Die feit dat my masjien vir twee weke buite werking was, het ook nie gehelp nie. Tog, stadig maar seker kom dit klaar.

Nog net die laaste kring kruisies en die border moet gekwilt word. Dan die laaste afronding.

Laastens, is my nuutste projek - die tafeldoek.

Al die basis blokke is gestik. Nou kan ek met die appliek begin. Die beste is dat ek die blokke kon stryk op my nuwe stryk matjie! Dit was wonderlik, en dit het my baie tyd gespaar. Ek het 21 blokke gemaak in 1 uur se tyd!

Vordering is stadig, maar dit is vordering!

Tot later.

Saturday, 16 July 2011

Stryk Matjie

(To those reading in English or another language, the translation is very bad. I am not sure how, but I did my best to write in such a way that the translation gadget can get things right...but it doesn't. My apologies!)

Moda Bakeshop is 'n baie inspirerende webtuiste. Dit het uitstekende idees en patrone, en tutoriale wat daarby pas.

Vandag wil ek een patroon met julle deel. Vir die volledige patroon, kliek HIER. Wat ek julle gaan wys is die aanpassings wat ek gemaak het.

Eerstens, ek het nie thermal fabric nie, dus moes ek maar improviseer. Ek het vir beide die rugkant en voorkant, gewone 100% katoen materiaal gebruik, en twee stukke Insul-Bright. Kan ek dus sê my stryk matjie is twee-sydig?

Wel, hiermee my foto's:

Ek het nie 'n charm pack gehad - soos op die patroon - nie, maar ek het wel oorblyfsels gehad van 'n layer cake wat net so goed werk!

My patroon, wat gaan dien as die bokant (anders as die patroon wat dit vir rug
 gebruik)

Die agterkant

Twee stukke Insul-Bright (rug teen rug), in plaas van een stuk Insul-Bright en dan thermal fabric vir die bokant

Een-twee-drie - stryk matjie klaar:

Ignoreer die materiaal wat na die een hoek to trek :-o (Slegte stikwerk beplanning)

Nou wil ek julle 'n oulike metode wys wat die afwerking betref. Ek is nooit tevrede met my omboorsel nie. Dit lyk altyd vir my swak wanneer ek dit met die masjien doen. So, ek het op die internet gespring, en na idees gesoek vir "binding by hand". En ek het dit gekry!!!

Die instruksies kan julle HIER kry. Die basiese idee is soos volg:

Ryg jou gare soos in hierdie foto en trek styf (moenie te veel ryg en dan probeer styf trek nie - die gare gaan òf breek, òf die gare gaan nie alles styf trek nie).

En ta-da:

Wat my betref is dit die beste "binding" wat ek in 'n lang tyd gesien het - al moet ek dit van my eie werk sê.

Aan die mense wat hierdie metodes en idees uitgedink het - Fantasiese werk! Julle verdien elkeen 'n goue sterretjie!!!!

Tot later!