Tuesday, 21 June 2011

Maintenance Mayhem

Die laaste rukkie was maar stil, en ek het nie veel gewerk aan my projekte nie. Die rede:


My  masjien word tans gediens. Die laaste ruk is dit vol skete, en ek het Manlief gevra om te kyk, voordat ek die masjien "doktor" toe neem. Gelukkig het Manlief gesê dat hy niks sien wat gebreek is nie, en het die masjien 'n goeie dosis olie gegee. Daar is wel een part wat hy eers moet aan werk, maar dit is gelukkig nie ernstig nie. Tot tyd en wyl daar aan die part gewerk word, kan ek niks op die masjien doen nie.

Nog 'n item wat bietjie aandag benodig het, was my rollemmes. Die lemmetjie is bietjie stomp, maar dit is gou-gou reggestel:


Uit met die slypsteen en 1,2,3... skerp is die lemmetjie weer! Hierdie is beslis een van my gunstelling items in my naaldwerklaai. Hierdie slypsteen het my al  baie geld gespaar. Jy kan die lemmetjie vele kere slyp. Dus hou die lemmetjie langer, in plaas daarvan dat jy elke keer 'n nuwe lemmetjie moet gaan koop.

Met die lemmetjie weer skerp, en die hefboom skoon, kon ek weer materiale sny! Ek het solank met die voorbereiding begin vir my tafeldoek.


Die basis-blokke se materiaal is gesny. Die gekleurde materiale gaan gebruik word vir my appliek, waarvan die patrone reeds op Steam-A-Seam ("boekrol" in die middel) geteken is. Ek wil die vorms uitsny en op die materiale stryk terwyl ek nou die tyd het. Die stikwerk van die basis-blokke sal vinnig gaan, en daarom wil ek so veel moontlik voorbereiding gedoen hê, sodat ek net kan plak-en-vaswerk. (Asof dit ooit so vinnig gaan)

Een ding wat ek wel kon voltooi, voordat die masjien sy uitbarsting gegooi het, is my weergawe van die appliek kussing:


Ek is baie tevrede met die eindproduk. Ek is seker ek sal weer so een maak.

Dis dit, vir eers!

Tot later!

Friday, 3 June 2011

Stadige vordering en iets nuuts

Sjoe, wie sou kon dink dat tyd so vinnig verby vlieg!!! Dis al meer as 'n maand sedert my laaste blog inskrywing. Waarom is ek so stil...?

Wel, vir 'n week en 'n half was ek nie naby die internet nie, en die ander twee en 'n half weke het ek nie baie kwiltwerk gedoen nie. Dus het ek niks regtig om met julle te deel nie. Maar, om myself aan te moedig, het ek dit goed gedink om aan julle my (bietjie) vordering te toon.

Eerstens, hier is die kwiltwerk wat ek tot op hede op Manlief se kwilt gedoen het. 


Dit blyk of ek middelstuk te dig gekwilt het, maar ek gaan dit so los - dit pla my nie.



Die tweede ry het ek minder dig gekwilt, en dit lyk beter. Ek speel ook met twee kleure gare. Die ligter kruisies, kwilt ek met 'n ligter gare, en die blou kruisies, met 'n ligte blou gare. Ek hou van die effek, en hoop ook dit sal die kleurskema uitlig - soos ek dit patroon beplan het. (Indien ek julle nou heeltemal deurmekaar het, kyk HIER. Die middelstuk is lig, dan het dit 'n stel blou kruisies rondom, gevolg deur weer 'n stel ligter kruisies, en laastes weer 'n stel blou kruisies (squeare in the sqaure-effek)


Ek beter opskud as ek hierdie kwilt wil klaar hê vir Manlief se verjaarsdag oor 'n maand...!!!

My volgende appliek kussing se organsa laag is voorberei en reg om geborduur te word.


Die probleem met langtermyn projekte is...wel...dit raak vervelig en eentonig. Ek is versot op die kussings, en en is steeds van plan om al 12 patrone in die boek te doen, maar dit neem tyd. Ek begin wonder of ek my mikpunt (van nog 5 kussings vir hierdie jaar te maak) gaan bereik, as ek nog nie eers die eerste een vir die jaar klaar het nie.

Om my te inspireer, het ek my eie ontwerp gemaak...


...en ek is baie tevrede. Dis helder, en besig, en ek dink dit beeld uit wie ek nou is (op hierdie stadium van my lewe). Die ontwerp mag dalk "primitief" wees, maar 'n mens moet seker iewers begin. Ek meen, dit is my heel eerste ontwerp - met ander woorde geen ander patrone wat ek verwerk het nie, en/of geen prentjies wat ek gemanipuleer het nie! Alles met my eie hand geteken en met my eie brein uitgedink! Ek het die motivering vir die kleure gekry met die blou materiaal en al die kleure wat daarin versteek is. My doel was om die ander kleure (behalwe blou) uit te lig deur middel van die appliek en borduurwerk. Hierdie gaan natuurlik ook 'n kussing raak. Ek gaan wel kwiltwerk daarop doen, en dan die agterkant van die kussing-oortreksel aanwerk. Hoop om dit hierdie naweek te doen.

Dit blyk of ek nog baie het om te doen. Wat het julle beplan vir die naweek?

Tot later!

Ps. Die foto's is met die selfoon geneem - ons kamera is bietjie "out-of-order" vir die oomblik. Hoop die kwaliteit is nie te sleg nie.

Sunday, 8 May 2011

Staptog in die Boendoes

Daar is niks meer aangenaam, as om vroeg oggend op te staan, en te weet jy gaan vandag in die boendoes baljaar nie...ok, miskien is daar. Tog het ons gister saam met Astrid (Grandma's Red Needle / Red Needle's Tropical Passions) en haar man 'n heerlike roete gestap.

Die oggend was koel, grys, en het na 'n belowende dag gelyk vir 'n staptog.



Ons was meters weg van ons eindbestemming (om die motor te parkeer en die boendoes in te vaar), toe 'n man ons keer, en homself bekend stel as 'n toergids. Hy ken die area van die Tamarind Falls baie goed, en wou ons graag op die roete neem. Ek was bietjie in die gesig gevat, want die toergids het gedink ons kom van Engeland af (geen slegte gevoelens teenoor die mense van Engeland nie!!!).  Ook, sou ons hom 'n fooitjie moes betaal, maar ons het gelukkig betyds besluit om nie van sy dienste gebruik te maak nie.

 Tamarind Watervalle vanaf die parkeerarea

Ons was ook nie regtig van plan om die watervalle self te gaan klim nie, maar wou 'n voetpaadjie in daardie area stap.

Dit is die begin punt...


Ons was skaars op die voetpaadjie, toe word ons aangeval deur muskiete - miljoene van hulle. Arme Manlief se arms, nek en gesig was bloedrooi gebyt, en het hy later sy baadjie aangetrek. Ek het ook 'n paar byte gehad op my arms en hande, maar kon vinnig genoeg my baadjie aantrek. In 'n humide plek soos hierdie, was die baadjie later 'n groter las as 'n redding, want ek het my sopnat gesweet binne-in die ding. Maar ek het verkies om met die baadjie te stap, en te sorg dat ek genoeg water drink, eerder as om die muskiete 'n rede te gee om ons te volg!!!

Gelukkig het ons gou genoeg in 'n oop area (so oop soos wat 'n mens kan kry in 'n bos-agtige area) beland en ons kon vir Flic en Flac in die verte sien.


Een van die groot verrassings, en die een wat my bloed byna laat stol het, was die perdeby neste in die bome



en selfs een teen 'n elektriese draad!


Dis die neste van die Paper Wasp. Ek is maar baie skrikkerig vir hulle, en ek het BAIE ver weg gebly.

Ons staptog het ons dieper in die bos ingeneem, en ons het beskerming teen die son gehad. Ongelukkig het dit net meer humied geraak. Wat gevoel het soos ure later, omdat tyd net stil staan in die plek - dink ons het 'n uur en 'n half gestap - het ons by die rivier 'n sitplek gevind, en middag-ete geniet. Middag-ete het bestaan uit Boontjie-poffertjies, Tee, Oliebolle en water. Die uitsig was ook nie te sleg nie:




Die terug keer was vinniger - as ek reg onthou het ons in 'n uur terug gestap. Die middag-ete het ons dus 'n goeie hupstoot gegee :) Met die terug keer het ons ook 'n paar wilde sampioene raakgeloop, en Manlief was eerste met die foto's:



Wat 'n heerlike dag met vriende, natuur en vars lug! Fantasties!

Voor ek vergeet - Gelukkige Moedersdag aan die Ma's/Ouma's - dankie vir al die liefde, geduld, harde werk ,en meer liefde, wat julle ons - julle kinders (maak nie saak wat die ouderdom nie) bied. Julle is net die beste!

Wat my kwiltwerk betref - ek is besig om kwiltwerk te doen op Manlief se kwilt. Ek het tot 'n skok besef ek nie genoeg watte-ersel (batting) het, vir beide Manlief se kwilt en die Raggedy kwilt, nie en moet bestel. Gelukkig is daar genoeg vir Manlief se kwilt - en aangesien dit moet klaar vir sy verjaarsdag, is dit natuurlik my top prioriteit.

Lekker dag en tot volgende keer!

Saturday, 23 April 2011

Give away!

Hi almal.

Jackie, van Canton Village Quilt Works, het 'n ongelooflike weggee:

The Quilter's Bible deur Linda Clements.

Gaan skryf jou naam in vir die trekking. Inskrywings eindig 28 April!

Monday, 18 April 2011

Raggedy - bokant voltooi

Nog 'n kwilt se bokant is voltooid!

My Raggedy Ann kwilt se bokant is ook nou voltooid. Dit het lank geneem om die laaste borduurwerk klaar te kry. Ek het die laaste ruk min tyd gehad om te sit en borduur. Indien ek tyd het, spandeer ek dit agter die masjien besig met stikwerk. Wanneer ek wel tyd gehad het vir borduurwerk, was dit in die aand, en die beligting was dan nie ideaal nie - my oë is nie van die beste nie, selfs met 'n koplig op my kop!

Hier is my vordering sedert ek vir julle laas gewys het:

Blok 10


Blok 11


Blok 12


En laastens...Ta-Da...


...die volledige bokant, met blokke, shashing, en border.

Indien julle belangstel om hierdie patroon te maak, kan julle na The Painted Quilt gaan. Die patroon is op die regterkantste paneel. Of julle kan op die Raggedy and Friends prentjie kliek (op my linkerkantste paneel).

Dankie Kaaren van The Painted Quilt vir hierdie wonderlike projek wat ons kon volg!!

Tot later!