Sunday, 8 May 2011

Staptog in die Boendoes

Daar is niks meer aangenaam, as om vroeg oggend op te staan, en te weet jy gaan vandag in die boendoes baljaar nie...ok, miskien is daar. Tog het ons gister saam met Astrid (Grandma's Red Needle / Red Needle's Tropical Passions) en haar man 'n heerlike roete gestap.

Die oggend was koel, grys, en het na 'n belowende dag gelyk vir 'n staptog.



Ons was meters weg van ons eindbestemming (om die motor te parkeer en die boendoes in te vaar), toe 'n man ons keer, en homself bekend stel as 'n toergids. Hy ken die area van die Tamarind Falls baie goed, en wou ons graag op die roete neem. Ek was bietjie in die gesig gevat, want die toergids het gedink ons kom van Engeland af (geen slegte gevoelens teenoor die mense van Engeland nie!!!).  Ook, sou ons hom 'n fooitjie moes betaal, maar ons het gelukkig betyds besluit om nie van sy dienste gebruik te maak nie.

 Tamarind Watervalle vanaf die parkeerarea

Ons was ook nie regtig van plan om die watervalle self te gaan klim nie, maar wou 'n voetpaadjie in daardie area stap.

Dit is die begin punt...


Ons was skaars op die voetpaadjie, toe word ons aangeval deur muskiete - miljoene van hulle. Arme Manlief se arms, nek en gesig was bloedrooi gebyt, en het hy later sy baadjie aangetrek. Ek het ook 'n paar byte gehad op my arms en hande, maar kon vinnig genoeg my baadjie aantrek. In 'n humide plek soos hierdie, was die baadjie later 'n groter las as 'n redding, want ek het my sopnat gesweet binne-in die ding. Maar ek het verkies om met die baadjie te stap, en te sorg dat ek genoeg water drink, eerder as om die muskiete 'n rede te gee om ons te volg!!!

Gelukkig het ons gou genoeg in 'n oop area (so oop soos wat 'n mens kan kry in 'n bos-agtige area) beland en ons kon vir Flic en Flac in die verte sien.


Een van die groot verrassings, en die een wat my bloed byna laat stol het, was die perdeby neste in die bome



en selfs een teen 'n elektriese draad!


Dis die neste van die Paper Wasp. Ek is maar baie skrikkerig vir hulle, en ek het BAIE ver weg gebly.

Ons staptog het ons dieper in die bos ingeneem, en ons het beskerming teen die son gehad. Ongelukkig het dit net meer humied geraak. Wat gevoel het soos ure later, omdat tyd net stil staan in die plek - dink ons het 'n uur en 'n half gestap - het ons by die rivier 'n sitplek gevind, en middag-ete geniet. Middag-ete het bestaan uit Boontjie-poffertjies, Tee, Oliebolle en water. Die uitsig was ook nie te sleg nie:




Die terug keer was vinniger - as ek reg onthou het ons in 'n uur terug gestap. Die middag-ete het ons dus 'n goeie hupstoot gegee :) Met die terug keer het ons ook 'n paar wilde sampioene raakgeloop, en Manlief was eerste met die foto's:



Wat 'n heerlike dag met vriende, natuur en vars lug! Fantasties!

Voor ek vergeet - Gelukkige Moedersdag aan die Ma's/Ouma's - dankie vir al die liefde, geduld, harde werk ,en meer liefde, wat julle ons - julle kinders (maak nie saak wat die ouderdom nie) bied. Julle is net die beste!

Wat my kwiltwerk betref - ek is besig om kwiltwerk te doen op Manlief se kwilt. Ek het tot 'n skok besef ek nie genoeg watte-ersel (batting) het, vir beide Manlief se kwilt en die Raggedy kwilt, nie en moet bestel. Gelukkig is daar genoeg vir Manlief se kwilt - en aangesien dit moet klaar vir sy verjaarsdag, is dit natuurlik my top prioriteit.

Lekker dag en tot volgende keer!

Saturday, 23 April 2011

Give away!

Hi almal.

Jackie, van Canton Village Quilt Works, het 'n ongelooflike weggee:

The Quilter's Bible deur Linda Clements.

Gaan skryf jou naam in vir die trekking. Inskrywings eindig 28 April!

Monday, 18 April 2011

Raggedy - bokant voltooi

Nog 'n kwilt se bokant is voltooid!

My Raggedy Ann kwilt se bokant is ook nou voltooid. Dit het lank geneem om die laaste borduurwerk klaar te kry. Ek het die laaste ruk min tyd gehad om te sit en borduur. Indien ek tyd het, spandeer ek dit agter die masjien besig met stikwerk. Wanneer ek wel tyd gehad het vir borduurwerk, was dit in die aand, en die beligting was dan nie ideaal nie - my oë is nie van die beste nie, selfs met 'n koplig op my kop!

Hier is my vordering sedert ek vir julle laas gewys het:

Blok 10


Blok 11


Blok 12


En laastens...Ta-Da...


...die volledige bokant, met blokke, shashing, en border.

Indien julle belangstel om hierdie patroon te maak, kan julle na The Painted Quilt gaan. Die patroon is op die regterkantste paneel. Of julle kan op die Raggedy and Friends prentjie kliek (op my linkerkantste paneel).

Dankie Kaaren van The Painted Quilt vir hierdie wonderlike projek wat ons kon volg!!

Tot later!

Sunday, 10 April 2011

Manlief se kwilt - bokant voltooi

Net 'n kort inskrywing vandag...bloot omdat ek nie veel het om te deel nie.

Die bokant van Manlief se kwilt is klaar!!! Ek het dit 'n paar oomblikke gelede klaar vasgewerk.


Die patroon is van die boek "Schnibbles Times Two" deur Carrie Nelson. Ek het die lengte aangepas, sodat Manlief se voete nie onder sal uitsteek nie :)
 
Nou kan ek bietjie asem skep, voordat ek verder aan die Raggedy-kwilt werk. Ek het nog 'n bietjie borduurwerk om te doen, en dan besluit op die border. Ek hoop om dit binne die volgende week of twee klaar te hê. Daarna wil ek verder werk aan Manlief se kwilt. My hoop is om die twee kwilte saam te voltooi. Dan het beide van ons 'n kombersie vir die winter.

Hoop julle geniet jul dag!

Sunday, 27 March 2011

Eureka!

Om iets nuuts te leer is nie noodwendig altyd genotvol nie, maar indien jy iets nuuts ontdek - is dit fantasties! Gister het ek 'n Eureka-oomblik beleef. Ek is besig om aan Manlief se kwilt, vir sy verjaarsdag, te werk. Tydens die sny-werk, moes ek driehoeke sny. Vir my is driehoeke 'n baie stadige werk...totdat ek gister ontdek het hoe die 45° lyne op my snymat en liniale werk. Jy sou dink dat dit van die eerste goed is wat 'n nuwe kwilter sal aanleer. Tog het ek daardie les iewers gemis :) Meeste van my werk tot op hede het bestaan uit stroke en vierkante, met die driehoeke wat nou-en-dan hul verskyning maak.

Gister het ek ontdek dat indien jy die driehoek (wat ek in my geval weer in kleiner driehoeke moes sny) op die 90° lyn van die snymat neerlê, dan lê die 45° lyn presies in die middel. Plaas dan die liniaal se 45° bo-op die mat se 90° lyn...dan weet jy waar om te sny! Eureka!


Ek was in die wolke! Ek het die "teorie" weer op 'n ander manier getoets, en weer met die selfde resultaat beland. Wat 'n ongelooflike ervaring!


My sny-werk het natuurlik spoed opgetel na die ontdekking (ek moes 60 driehoeke sny). Die bokant se stukke is almal gesny, en dis hoe die kwilt lyk, nadat alles op die grond uitgepak is:


Ek skuif nog rond aan die kleure, maar die algemene prentjie is daar. Hoop ek kry vandag genoeg tyd om te begin stik aan die kwilt.

Nou moet ek eers koffie in kry. Ek laat julle met 'n pragtige prentjie, waarmee ons 'n paar dae gelede wakker geword het.


Tot later!