Saturday, 30 October 2010

Verslawings

Ek het iets wat ek moet bely - ek is verslaaf....AAN BEKERS!

Daar is nie 'n beker wat ek kan verby laat gaan, sonder om eers dit te bewonder en te oordink, oor waar dit die beste in my huis sal vertoon nie. Waar ookal ek kom, wil ek 'n beker hê. Ek het bekers met strokiesprente op, bekers wat ek as geskenke vir my verjaarsdae en Kersfees gekry het, bekers as aandenkings van plekke wat ek besoek het...en so kan ek aangaan. Dus, toe ek gister gaan inkopies doen het, kon ek myself net nie help nie...

Die een verskaffer - Nescafè - gee bekers met hul koffie produkte weg. Toe ek weer kyk, is hierdie twee in my hand:


Maar nou kom my probleem in...julle sien die beker aan die regter kant - die een met die groot glimlag? Daar is nog twee sulke bekers, met ander gesiggies op. Ek het gister hard met myself baklei, om nie 4 maande se koffie voorraad aan te koop nie. Maar ek kan dit ook nie verdra, om net 'n gedeelte van 'n stel bekers te hê nie. Hoe nou?

Een van my gunstelling bekers is hierdie een, wat my vriendin uit London vir my gebring het:


Dis natuurlik ook die beker wat ek saam gebring het, terwyl ons hier in Mauritius woon. Meeste van my versamel bekers het krake in, of het 'n stukkende plek iewers, en ek wou dit nie waag om hulle oor te bring nie. Gewoonlik word my bekers (wat ek versamel) bo-op my kombuis kaste vertoon. En soms sal ek hulle gebruik ook.

Wel, tyd vir my om te gaan koffie drink - in my nuwe bekers.

Waaraan is julle verslaaf?

Groete!

Wednesday, 27 October 2010

Speeltyd en iets uit die verlede

Fleurette by Fleur's place het die oulikste tissue-houers gemaak, en ek kon nie dit weerstaan om van my eie te maak nie. Julle kan die patroon vir hierdie oulike, snoesige houertjies (en ander oulike idees), kry by Polka Dot Pineapple. Hierdie houers is so vinnig en maklik om te maak. Dit gaan natuurlik ook baie oulike geskenkies maak...Ek het alreeds 'n hele paar name vir wie ek hierdie houertjies kan/gaan maak.



Terwyl ek so aan die speel was, het ek ook gekyk of ek kan FMQ (free motion quilting) doen. Dit het my 'n rukkie geneem om my masjien aan te pas, maar ek het dit reg gekry. Ek het 'n beker mussie gemaak. Ek vergeet soms van my koffie, wanneer ek baie besig raak, en wanneer ek weer onthou, is my koffie yskoud. Hopelik is dit nou iets van die verlede met my beker mussie.



Kan julle die kwiltwerk sien? Dis nie regtig besonders nie, maar vir my is dit goed genoeg as motivering om dit op ander projekte ook te probeer.

Onthou julle hierdie foto, vanaf hierdie inskrywing:



Michelle by The Desert Quilter het toevallig, in die kommentaar wat sy gelos het, reg geraai. Dit is inderdaad 'n baba kwilt. In September het my skoon-suster geboorte geskenk aan 'n pragtige baba seuntjie, en as Tannie, wou ek graag iets vir die kleinding maak. Hier is die voltooide kombersie:



En hier is die agter kant (Jammer vir die swak fokus):



Dis dit, vir eers. Tot later!

Friday, 22 October 2010

Besig, besig, besig...

...maar het min om daarvoor te wys.

Al ooit die gevoel gekry dat jy soms jou tot die dood toe werk, en dan het jy nie eers resultate, as bewyse van jou harde werk nie? Dit is baie frustrerend, en presies hoe ek voel die afgelope twee weke. Ek was verskriklik besig, maar kan nie vir julle iets wys nie. Ek moet erken dat, ek min kwiltwerk gedoen het, maar ek kon darem so bietjie tyd spandeer agter die masjien.

Kom ek wys julle wat ek op die oomblik aan werk:


Hierdie is 'n klein blik op my Brown Bag Quilt Contest projek. Die middelpunt is voltooi, maar ek werk nog aan die res. Dit blyk of ek genoeg materiaal oor gaan hê, om die agterkant ook te voltooi. Yeah!


Die kwiltwerk van die Kersfees muurbehangsel, gaan maar stadig. Ek het oorspronklik die toebroodjie gemaak met spelde, maar dit het nie so lekker gewerk nie. Ek het later die spelde verwyder, en dit met gare vervang. Dit gaan nou beter, maar ek sukkel steeds so bietjie. My mikpunt is om dit voor Kersfees 2010 klaar te maak!!!

En dan natuurlik - Blok 4 van "Raggedy and Friends", wat Woensdag vrygestel is. Ek het die stukke gistraand gesny. Sal kyk wanneer ek tyd het om dit aanmekaar te stik en borduur.

Dis my lysie "to do's". Hoe lyk julle s'n?

Groete vir eers!

Sunday, 10 October 2010

Groei pyne

Wel, dit blyk asof my blog 'n bietjie groei pyne ondervind.

Nie net het my "interface" oornag verander nie, maar ek kry klagtes dat mense nie my translator gadget kry nie, of dat julle nie kan kommentaar lewer nie. Indien julle enige probleme ondervind, of selfs voorstelle het vir goed wat ek kan verander/byvoeg/weglaat, laat my weet. Ek waardeer al die insette wat julle my kan bied. Indien julle dieselfde probleme ondervind, laat my weet, dan kyk ons of ons dit saam kan uitsorteer.

Dus, die probleme wat ek tot dusver ondervind het, en my oplossings:

Probleem: Mense het gesukkel om my translator gadget te kry.
Oplossing: Ek het die translator gadget tot heel bo aan die webbladsy geskuif, en 'n groot nota gemaak oor waar dit is. Tot dusver het ek nie weer klagtes ontvang nie.

Probleem: My "labels" het oorspronklik gewys, en toe verdwyn.
Oplossing: Ek het na "Design" gegaan, en die Edit HTML opsie gekies. Ek het 'n back up van my templaat gemaak, en op die "Revert widget templates to default" gekliek. Daarna het alles weer gewerk.

Probleem: Mense kan nie kommentaar lewer nie
Oplossing. Hopenlik het die "Revert widget templates to default" gehelp daarmee. Laat my weet indien julle steeds sukkel om kommentaar te los.

Probleem: Die kommentaar, reaksies en ander interaksie gadgets verander (Die interaksie gadget aan die onderkant van elke inskrywing)
Oplossing: Die "Revert widget templates to default" het die probleem ook opgelos.

Hoop dit help julle wat dieselfde probleme as ek ondervind.

Groete vir eers!