Sunday 27 March 2011

Eureka!

Om iets nuuts te leer is nie noodwendig altyd genotvol nie, maar indien jy iets nuuts ontdek - is dit fantasties! Gister het ek 'n Eureka-oomblik beleef. Ek is besig om aan Manlief se kwilt, vir sy verjaarsdag, te werk. Tydens die sny-werk, moes ek driehoeke sny. Vir my is driehoeke 'n baie stadige werk...totdat ek gister ontdek het hoe die 45° lyne op my snymat en liniale werk. Jy sou dink dat dit van die eerste goed is wat 'n nuwe kwilter sal aanleer. Tog het ek daardie les iewers gemis :) Meeste van my werk tot op hede het bestaan uit stroke en vierkante, met die driehoeke wat nou-en-dan hul verskyning maak.

Gister het ek ontdek dat indien jy die driehoek (wat ek in my geval weer in kleiner driehoeke moes sny) op die 90° lyn van die snymat neerlê, dan lê die 45° lyn presies in die middel. Plaas dan die liniaal se 45° bo-op die mat se 90° lyn...dan weet jy waar om te sny! Eureka!


Ek was in die wolke! Ek het die "teorie" weer op 'n ander manier getoets, en weer met die selfde resultaat beland. Wat 'n ongelooflike ervaring!


My sny-werk het natuurlik spoed opgetel na die ontdekking (ek moes 60 driehoeke sny). Die bokant se stukke is almal gesny, en dis hoe die kwilt lyk, nadat alles op die grond uitgepak is:


Ek skuif nog rond aan die kleure, maar die algemene prentjie is daar. Hoop ek kry vandag genoeg tyd om te begin stik aan die kwilt.

Nou moet ek eers koffie in kry. Ek laat julle met 'n pragtige prentjie, waarmee ons 'n paar dae gelede wakker geword het.


Tot later!

Thursday 17 March 2011

Naaldwerk en appliek

Wanneer 'n mens druk besig is, waardeer jy die oomblik of twee wat jy net kan stil sit...en asem haal. Die laaste maand het ek min sulke oomblikke gehad - en het hulle baie waardeer. En wat 'n meer ontspanne manier om die "my tyd" te geniet, as om 'n paar lappies aan mekaar te werk, of om materiaal te sny, en prentjies te maak?!

Ek het begin met die volgende marble kussing se voorbereiding. Die appliek stukkie is uitgesny, geposisioneer en vas gestryk op die agtergrond. Nou moet die organza laag bo-oor kom, en dan kan ek met die borduurwerk begin.


Ek het ook ingehaal met die Raggedy blokke. Aangesien die laaste 3 gelyktydig vrygestel is, het ek besluit om dit as een projek vir die maand te maak, in plaas van drie projekte vir drie maande - soos oorspronklik beplan. Die borduurwerk moet nog plaasvind, maar die blokke is almal klaar.

Blok 10


 Blok 11


Blok 12



Diegene wat die Raggedy BOM volg, sal ontdek dat my Blok 12 is anders. Ek het 'n "patroon fout" gemaak, maar ek is tevrede met hoe dit lyk, en is dus nie van plan om die blok uitmekaar te torring, om twee blokkies om te draai nie. Ek het eers my fout ontdek nadat ek die sashing aangewerk het. Dit kom daarvan as jy sonder 'n beker koffie begin naaldwerk doen!

Die res van die maand gaan 'n stadige een wees rakende hierdie projekte, aangesien almal borduurwerk moet kry - en dit vat baie van my tyd. Maar ek sal julle op hoogte hou oor hoe dinge vorder.

Waarmee is julle besig op die oomblik?

Groete vir eers!

Wednesday 2 March 2011

Vordering

Ek het uiteindelik bietjie tyd gekry om te sit met naald en gare, en Blokke 6-9 te voltooi van die Raggedy BOM. Ek het meeste werk gedoen oor die naweek, asook in die aande terwyl ek vir Manlief gewag het om by die huis te kom.

Hier is my vordering:

Blok 6 (uiteindelik!)



Blok 7



Blok 8



Blok 9



Blokke 10-12 se instruksies is die 20ste Feb vrygestel. Dit sluit ook die instruksies in om die projek te voltooi (slegs die bostuk, nie die rugkant of omboorsel nie). Dus gaan ek goed besig wees vir 'n rukkie. Ek het ook nog die volgende Marble kussing om voor te berei en aan te werk. Een ding op 'n slag!

Julle is seker al moeg vir hierdie soort foto. Hier is die 9 voltooide blokke uitgelê op die vloer, om 'n prentjie te vorm van hoe die kwilt gaan lyk:


Ek raak meer en meer opgewonde, hoe nader ons kom aan die einde van die projek. Ek kan nie wag om te sien hoe dit gaan lyk as dit klaar is nie. Wat ek wel weet is dat ek tot dusver BAIE tevrede is met die kwilt.

Wel, laat ek aan die werk spring vir die voorbereiding van die laaste werk en die shashing en borders en rugkant en en en...Julle kry die prentjie.

Praat later weer!