Tuesday 21 June 2011

Maintenance Mayhem

Die laaste rukkie was maar stil, en ek het nie veel gewerk aan my projekte nie. Die rede:


My  masjien word tans gediens. Die laaste ruk is dit vol skete, en ek het Manlief gevra om te kyk, voordat ek die masjien "doktor" toe neem. Gelukkig het Manlief gesê dat hy niks sien wat gebreek is nie, en het die masjien 'n goeie dosis olie gegee. Daar is wel een part wat hy eers moet aan werk, maar dit is gelukkig nie ernstig nie. Tot tyd en wyl daar aan die part gewerk word, kan ek niks op die masjien doen nie.

Nog 'n item wat bietjie aandag benodig het, was my rollemmes. Die lemmetjie is bietjie stomp, maar dit is gou-gou reggestel:


Uit met die slypsteen en 1,2,3... skerp is die lemmetjie weer! Hierdie is beslis een van my gunstelling items in my naaldwerklaai. Hierdie slypsteen het my al  baie geld gespaar. Jy kan die lemmetjie vele kere slyp. Dus hou die lemmetjie langer, in plaas daarvan dat jy elke keer 'n nuwe lemmetjie moet gaan koop.

Met die lemmetjie weer skerp, en die hefboom skoon, kon ek weer materiale sny! Ek het solank met die voorbereiding begin vir my tafeldoek.


Die basis-blokke se materiaal is gesny. Die gekleurde materiale gaan gebruik word vir my appliek, waarvan die patrone reeds op Steam-A-Seam ("boekrol" in die middel) geteken is. Ek wil die vorms uitsny en op die materiale stryk terwyl ek nou die tyd het. Die stikwerk van die basis-blokke sal vinnig gaan, en daarom wil ek so veel moontlik voorbereiding gedoen hê, sodat ek net kan plak-en-vaswerk. (Asof dit ooit so vinnig gaan)

Een ding wat ek wel kon voltooi, voordat die masjien sy uitbarsting gegooi het, is my weergawe van die appliek kussing:


Ek is baie tevrede met die eindproduk. Ek is seker ek sal weer so een maak.

Dis dit, vir eers!

Tot later!

Friday 3 June 2011

Stadige vordering en iets nuuts

Sjoe, wie sou kon dink dat tyd so vinnig verby vlieg!!! Dis al meer as 'n maand sedert my laaste blog inskrywing. Waarom is ek so stil...?

Wel, vir 'n week en 'n half was ek nie naby die internet nie, en die ander twee en 'n half weke het ek nie baie kwiltwerk gedoen nie. Dus het ek niks regtig om met julle te deel nie. Maar, om myself aan te moedig, het ek dit goed gedink om aan julle my (bietjie) vordering te toon.

Eerstens, hier is die kwiltwerk wat ek tot op hede op Manlief se kwilt gedoen het. 


Dit blyk of ek middelstuk te dig gekwilt het, maar ek gaan dit so los - dit pla my nie.



Die tweede ry het ek minder dig gekwilt, en dit lyk beter. Ek speel ook met twee kleure gare. Die ligter kruisies, kwilt ek met 'n ligter gare, en die blou kruisies, met 'n ligte blou gare. Ek hou van die effek, en hoop ook dit sal die kleurskema uitlig - soos ek dit patroon beplan het. (Indien ek julle nou heeltemal deurmekaar het, kyk HIER. Die middelstuk is lig, dan het dit 'n stel blou kruisies rondom, gevolg deur weer 'n stel ligter kruisies, en laastes weer 'n stel blou kruisies (squeare in the sqaure-effek)


Ek beter opskud as ek hierdie kwilt wil klaar hê vir Manlief se verjaarsdag oor 'n maand...!!!

My volgende appliek kussing se organsa laag is voorberei en reg om geborduur te word.


Die probleem met langtermyn projekte is...wel...dit raak vervelig en eentonig. Ek is versot op die kussings, en en is steeds van plan om al 12 patrone in die boek te doen, maar dit neem tyd. Ek begin wonder of ek my mikpunt (van nog 5 kussings vir hierdie jaar te maak) gaan bereik, as ek nog nie eers die eerste een vir die jaar klaar het nie.

Om my te inspireer, het ek my eie ontwerp gemaak...


...en ek is baie tevrede. Dis helder, en besig, en ek dink dit beeld uit wie ek nou is (op hierdie stadium van my lewe). Die ontwerp mag dalk "primitief" wees, maar 'n mens moet seker iewers begin. Ek meen, dit is my heel eerste ontwerp - met ander woorde geen ander patrone wat ek verwerk het nie, en/of geen prentjies wat ek gemanipuleer het nie! Alles met my eie hand geteken en met my eie brein uitgedink! Ek het die motivering vir die kleure gekry met die blou materiaal en al die kleure wat daarin versteek is. My doel was om die ander kleure (behalwe blou) uit te lig deur middel van die appliek en borduurwerk. Hierdie gaan natuurlik ook 'n kussing raak. Ek gaan wel kwiltwerk daarop doen, en dan die agterkant van die kussing-oortreksel aanwerk. Hoop om dit hierdie naweek te doen.

Dit blyk of ek nog baie het om te doen. Wat het julle beplan vir die naweek?

Tot later!

Ps. Die foto's is met die selfoon geneem - ons kamera is bietjie "out-of-order" vir die oomblik. Hoop die kwaliteit is nie te sleg nie.