Tuesday 31 August 2010

Ek het my les geleer!

Wel, wat 'n naweek! Ek was so opgewonde toe ek Donderdag die kennisgewing kry om 'n pakkie by die poskantoor moet gaan haal. Ek het presies geweet wat dit was, en ek kon nie Vrydag gou genoeg in Port Louis (Mauritius se hoofstad) kom, om my pakkie te gaan haal nie. Soms gebeur dit dat die Doeane, by die poskantoor, jou pakkie afneem, en dan moet jy die inhoud verklaar. Ander kere is ons baie gelukkig en dan glip die pakkie deur. Met hierdie geval moes ek die inhoud verklaar... Ek kan hul ook nie kwalik neem nie, want ek het 10 meter se materiaal bestel...

In Port Louis aangekom, en na al my werks verpligtinge daar afgehandel is, is ek na die poskantoor om my pakkie te gaan optel. Hier is 'n foto van hoe die hoofweg (motorway) lyk, wat aan die buite-kant van Port Louis verby gaan, met die Stad in die agter grond, en die hawe aan die regterkant (nie sigbaar, maar vir die interessantheid).



En hier is die ander kant. Die foto's is geneem vanaf die Doeane se oprit. Ongelukkig was daar te veel voertuie, anders het ek 'n foto van Doeane ook geneem.



By die huis gekom, het ek onmiddelik die pakkie oopgemaak en my materiale uitgepak. Ek het Saterdag die heel dag spandeer om die materiale te sny vir die Raggedy and Friends BOM van Kaaren by The Painted Quilt. My probleem het egter ingekom, toe ek die stukke begin aanmekaar heg...



Wat 'n gemors!!! Niks wou reg pas nie. Dit kom toe uit dat ek my naat toelating 3/8" maak en nie 1/4" soos wat dit veronderstel is om te wees nie. Duidelik kan 1/8" 'n baie groot verskil maak. Blyk my dat ek plaas elke keer die materiaal net 'n klein bietjie verby die naaldwerk voet, in plaas van onder die voet...Na 'n halwe dag van kla oor hoe dom ek is, en alles weer lostrek en her vaswerk, kan ek darem nou sê dat alles pas snoesig. Ek is besig met die borduurwerk, en sal hopenlik later hierdie week vir julle die eindproduk wys.

Wel, ek het my les geleer...die harde manier.

Tot later!

Elzaan

Tuesday 24 August 2010

Lag 'n slag

Ek weet nie van julle nie, maar ewe skielik is ek nie meer so gretig om te vlieg nie...

Funny airplane photos
see more That Will Buff Out

Monday 16 August 2010

Ek voel baie geëerd

Wow! Wat 'n verrassing! Vanoggend, toe ek my eposse lees, het hierdie verrassing my ingewag...


Michelle, by The Desert Quilter, was so gaaf om hierdie toekenning aan my oor te dra. Michelle, baie dankie vir hierdie groot eer! Dit word opreg waardeer.

Daar is egter 'n paar reels:
  1. Ek moet die persoon bedank wat dit aan my gestuur het - Weereens, dankie Michelle!
  2. Ek moet 7 dinge oor myself vertel
  3. Ek moet dit aanstuur na 15 ander mense

So iets van myself...
  1. Ek is versot op Fantacy boeke (toorkrag en drake-tipe)
  2. Alhoewel ek die oudste kind is, is ek ook die kortste
  3. Ek geniet dit om met syfers te werk
  4. My gunstelling musiek kunstenaars is Nicholis Louw, Celine Dion en Bryan Adams...het amper vir Retief Burger vergeet!
  5. My gunstelling kleure is blou, groen en wit, alhoewel ek deesdae ook meer neig na geel, oranje en pers
  6. My ouderdom word gewoonlik jonger geskat as wat ek is :-)
  7. Ek hou van wasgoed was, maar nie skottelgoed nie

Graag wil ek hierdie toekenning aanstuur aan:
  1. Quilitng Daze
  2. Fleurette by Fleur's Place
  3. Erin by One Piece at a Time
  4. Kaaren by The Painted Quilt
  5. Leah Day by 365 days of Free Motion Quilting
...Uhm, die ander aan wie ek dit graag wil stuur, het reeds hierdie toekenning ontvang, of het 'n besluit gemaak om nie toekennings te ontvang nie. Dus, die van julle wat my blog lees, neem hierdie toekenning, en dra dit oor aan iemand wat jou geinspireer het.

Sjoe, wat 'n verrassing!

Groete vir eers

Elzaan

Tuesday 10 August 2010

Foto's oor Mauritius

Wel, ek het nie veel hierdie naweek gedoen wat kwilting aanbetref nie. Dus het ek gedink dis 'n uitstekende geleentheid om oor Mauritius iets te sê - dis tog waaroor hierdie blog ook gaan! :-)

Hierdie naweek was baie onaangenaam. Die wind het die woonstel byna onderste-bo gewaai. Ek dink ons ervaar dit baie erger, omdat ons op die voet van die berg bly. Ek is nie 'n wetenskaplike nie, maar ek dink die berg (en ander omliggende berge) vorm 'n kanaal waardeur die wind waai, en dan versterk dit die intensiteit van die wind. Die feit dat ons op die boonste verdieping van 'n woonstel bly help ook nie veel nie. Blykbaar gaan hierdie wind so aanhou waai tot middel-September. Ongelukkig begin "Cyclone Season" vanaf Oktober se kant...*sug* Verlede jaar het geen siklone die eiland getref nie, alhoewel 'n paar naby verby is. Hoop hierdie jaar gaan dit net so goed gaan.

In plaas van om te kla oor die wind, kom ek wys julle eerder 'n paar foto's wat ons reeds geneem het sedert ons hier bly.


Nee, dis nie nodig om op tafels te spring nie. Hierdie outjie kom nie sommer in die huis nie - wel, nie in ons s'n nie. Hierdie is een van die vele reptiele wat ons al gewaar het op die eiland. Hulle kan van kleur verander, maar nie soos 'n verkleurmannetjie nie. Hulle kan ligter/donkerder word, en ek het al gesien dat hulle kan groen en swart word. Ons het hordes van hulle in die tuin gehad voor die winter. Sal maar kyk hoeveel daar hierdie somer is... die ander reptiele is geitjies, wat jou huis kan oorneem as jy nie kyk nie, en slange. Ek het nog net een slang gesien, maar my man het al twee gesien.



Hierdie is Le Morne berg. Destyds, in die 1800's, het 'n klomp slawe hier kom wegkruip. Terwyl hulle hier geskuil het, het die owerheid slawerny geskrap en dus was die slawe vry. Sommige mense het na die slawe kom soek om die goeie nuus met hulle te deel. Diè wat weggekruip het, het gedink die mense kom hul vang en terugneem in slawerny in, en het toe van hierdie berg af gespring en hul eie lewens geneem. Ai, dis so 'n hartseer storie, en dan is dit nog 'n ware verhaal...

Sien julle hoe helder is die water. Mauritius is 'n wonderlike plek as jy wil kom duik of snorkel. Die water is kristel helder, en daar is derduisende visse wat jy kan sien in alle groottes en kleure...


Hierdie is 'n Mangrove-plant. Ek het hulle opgemerk waar hulle groei by die hoogwater-merk van die see. Hierdie plant fassineer my verskriklik baie, en hulle lyk baie mooi so ryg teen mekaar. Ek het hulle nog net aan die Suid-Weste van die eiland gesien, en is onseker of hulle dalk in ander dele van die eiland ook groei. Julle kan hier meer lees oor hierdie plant.


Hierdie is natuurlik een van my gunstelling foto's. Hierdie is een van die vele prentjie-mooi sonsondergange wat ons in die aande geniet. Dis seker een voordeel om aan die weste kan van die eiland te bly... :-) Die beste is wanneer jy hierdie prentjie kan sien terwyl jy op die strand sit en piekniek hou, of selfs net 'n sun-downer geniet.

Ek dink dis genoeg Mauritius vir eers. Wil julle nie te veel gee om oor te droom nie... Anders gaan ek julle almal skielik eendag by my voordeur kry.

Groete vir eers!

Elzaan

Friday 6 August 2010

DIY projekte

Dis Vrydag! Kan julle dit glo!

Het julle al die First Friday Freeby prentjie op die linkerkantste paneel opgemerk? Het julle ook opgemerk dat ek 'n nuwe een bygevoeg het - Raggedy & Friends? Hierdie is twee projekte wat Kaaren by The Painted Quilt aanbied. En dis gratis!!!
  • First Friday Freeby word elke eerste Vrydag van elke nuwe maand vrygestel. Dis 'n "stitchery" wat jy in 'n kwilt, op 'n kussing, in 'n portret,... basies enige plek kan gebruik. Selfs op vadoeke! Kliek net op die First Friday Freeby prentjie, en dit sal julle oorskakel na The Painted Quilt. Al die projekte wat intussen vrygestel is, kan julle ook daar vind.
  • Raggedy & Friends word op die 20ste van elke maand, tot en met April 2011, vrygestel. Dit is 'n kwilt wat Kaaren ontwerp het, en sy neem jou blok vir blok deur die hele patroon. In hierdie geval word dit 'n Block of the Month (BOM) genoem. Die eerste blok is verlede maand vrygestel, en kan verkry word op The Painted Quilt se regterkanste paneel. Weereens, kliek op die prentjie, en dit sal julle oorskakel na The Painted Quilt.
Beide projekte kan van haar blog afgelaai word, met maklike, volgbare instruksies. Maak gerus daar 'n draai.

Tot later

Elzaan

Wednesday 4 August 2010

Kersfees in...Augustus?

Tra la la la la, la-la, la, la... Ek het my pakkies vandag vanaf die VSA ontvang. Ek het net vir een pakkie gewag, toe kry ek sommer twee!

Ek het die materiale gekry vir die Kers-muurbehangsel wat ek wil maak:



Ek wil 'n Kers-toneel kwilt hê, en hierdie gaan net die ding doen. Ek sal miskien materiaal van my "stash" ook moet gebruik...kan nie wag om hiermee te begin nie. Ek kan alreeds sien hoe die kwilt gaan hang teen die muur...Ons leefarea gaan hierdie jaar so mooi lyk. Verlede jaar toe ons hier aangekom het, het ons nie eers soveel soos 'n kersliggie gehad nie. Ons besittings was nog oppad en ons kersboompie was daarby. Ek het op die ou einde gaan tinsel koop, en het die leefarea bietjie versier. Tog het ek gevoel daar is iets "missing". Hoop ek kan hierdie jaar daardie gevoel skrap!

Die sterretjies - wat ek as Kersversierings in die huis wil ophang - begin ook rigting kry. Al die sterre en bypassende batting is uitgeknip, en alles is vol spelde. Dit wag natuurlik om vasgewerk te word.

My Moda Marble kleurkaart het ook opgedaag. Nou kan ek ook verder werk aan my kussings... Ek is tans besig om die tweede kussing met die hand te borduur (soos in die boek), maar het nog 'n entjie om te gaan. Dus kan ek solank die materiale kies en bestel vir die voering, asook vir die volgende kussing (indien my bankbalans dit sal toelaat :-D) Ai, so baie kleure of van te kies!!!



Wel, dinge gaan seker nie gebeur as ek net hier sit nie...gaan dit?

Tot later!

Elzaan