Tuesday 10 August 2010

Foto's oor Mauritius

Wel, ek het nie veel hierdie naweek gedoen wat kwilting aanbetref nie. Dus het ek gedink dis 'n uitstekende geleentheid om oor Mauritius iets te sê - dis tog waaroor hierdie blog ook gaan! :-)

Hierdie naweek was baie onaangenaam. Die wind het die woonstel byna onderste-bo gewaai. Ek dink ons ervaar dit baie erger, omdat ons op die voet van die berg bly. Ek is nie 'n wetenskaplike nie, maar ek dink die berg (en ander omliggende berge) vorm 'n kanaal waardeur die wind waai, en dan versterk dit die intensiteit van die wind. Die feit dat ons op die boonste verdieping van 'n woonstel bly help ook nie veel nie. Blykbaar gaan hierdie wind so aanhou waai tot middel-September. Ongelukkig begin "Cyclone Season" vanaf Oktober se kant...*sug* Verlede jaar het geen siklone die eiland getref nie, alhoewel 'n paar naby verby is. Hoop hierdie jaar gaan dit net so goed gaan.

In plaas van om te kla oor die wind, kom ek wys julle eerder 'n paar foto's wat ons reeds geneem het sedert ons hier bly.


Nee, dis nie nodig om op tafels te spring nie. Hierdie outjie kom nie sommer in die huis nie - wel, nie in ons s'n nie. Hierdie is een van die vele reptiele wat ons al gewaar het op die eiland. Hulle kan van kleur verander, maar nie soos 'n verkleurmannetjie nie. Hulle kan ligter/donkerder word, en ek het al gesien dat hulle kan groen en swart word. Ons het hordes van hulle in die tuin gehad voor die winter. Sal maar kyk hoeveel daar hierdie somer is... die ander reptiele is geitjies, wat jou huis kan oorneem as jy nie kyk nie, en slange. Ek het nog net een slang gesien, maar my man het al twee gesien.



Hierdie is Le Morne berg. Destyds, in die 1800's, het 'n klomp slawe hier kom wegkruip. Terwyl hulle hier geskuil het, het die owerheid slawerny geskrap en dus was die slawe vry. Sommige mense het na die slawe kom soek om die goeie nuus met hulle te deel. Diè wat weggekruip het, het gedink die mense kom hul vang en terugneem in slawerny in, en het toe van hierdie berg af gespring en hul eie lewens geneem. Ai, dis so 'n hartseer storie, en dan is dit nog 'n ware verhaal...

Sien julle hoe helder is die water. Mauritius is 'n wonderlike plek as jy wil kom duik of snorkel. Die water is kristel helder, en daar is derduisende visse wat jy kan sien in alle groottes en kleure...


Hierdie is 'n Mangrove-plant. Ek het hulle opgemerk waar hulle groei by die hoogwater-merk van die see. Hierdie plant fassineer my verskriklik baie, en hulle lyk baie mooi so ryg teen mekaar. Ek het hulle nog net aan die Suid-Weste van die eiland gesien, en is onseker of hulle dalk in ander dele van die eiland ook groei. Julle kan hier meer lees oor hierdie plant.


Hierdie is natuurlik een van my gunstelling foto's. Hierdie is een van die vele prentjie-mooi sonsondergange wat ons in die aande geniet. Dis seker een voordeel om aan die weste kan van die eiland te bly... :-) Die beste is wanneer jy hierdie prentjie kan sien terwyl jy op die strand sit en piekniek hou, of selfs net 'n sun-downer geniet.

Ek dink dis genoeg Mauritius vir eers. Wil julle nie te veel gee om oor te droom nie... Anders gaan ek julle almal skielik eendag by my voordeur kry.

Groete vir eers!

Elzaan

4 comments:

  1. I came to your blog via Astrid. Are you a Norwegian like her livingin Mauritius? Curious because I thought you are staying somewhere in Europe (the Scandinavian region).

    ReplyDelete
  2. Very nice photos, Elzaan, especially I like the sunset.

    ReplyDelete
  3. Beautiful pictures. Thank you so much for sharing.

    ReplyDelete
  4. I love seeing photo's of Mauritius, it's such a beautiful place, thanks for sharing!

    ReplyDelete

Jou kommentaar word baie waardeer. Ek geniet dit om jul opinies te lees. / Your comments are appreciated. I enjoy reading your opinions.