Wednesday 28 July 2010

Grap vir die dag

funny pictures of cats with captions
see more Lolcats and funny pictures

(Vir die van julle wat sukkel om LOL-taal te lees - dit lui: "My brother...he's... special")

Tuesday 27 July 2010

Iets van alles

Hierdie naweek het ons 'n paar kragonderbrekings gehad, en in plaas van om te sukkel met 'n masjien, het ek eerder materiale en template voorberei.

Alhoewel Kersfees nog ver is, word baie kersmateriale nou al beskikbaar gestel. Ek het die lieflikste materiale bestel vanaf die VSA, en wag vir die pienk kaartjie in die posbus, om my in kennis te stel dat ek 'n pakkie moet gaan afhaal... Ook, het ek begin om sterre-template te maak, en die patroon op die gekose materiale te merk (Hoop die foto's is duidelik genoeg. As jy lank genoeg kyk, dan sal jy sterre geteken sien op die materiale).




Ek het ook die materiaal stroke begin sny, vir die omboorsel, van hierdie outjie:




Op die oomblik kan ek nie die hele prentjie wys nie, want (a) dis 'n geskenk en (b) ek is besig om die helfte van die kwilt los te torring omdat die gare bly breek. So dit lyk maar bietjie woes.

...Die reuke vanaf die kombuis se kant is heerlik! Ons het die naweek 'n tros piesangs uit ons tuin gekry, en alhoewel ek lief is daarvoor, kan ek net soveel piesangs eet. Hulle het intussen begin oorryp raak, en ek moes vinnig spring om hulle te red. Die oplossing - piesangbrood! *snuif-snuif*... hmmm...ruik baie lekker. Dink ek moet gaan kyk...

Tot 'n volgende keer!

Elzaan

Wednesday 21 July 2010

"Marbles" Uitdaging

Ons skop sommer af met 'n "BANG"! Ek het twee maande gelede begin met 'n projek om 12 appliek kussingoortreksels te maak, vanuit die boek "Shadow Appliquè" deur Hetty van Boven. Die eerste oortreksel is voltooi, en word nou uitgestal op ons sitkamerbank.



Die uitdaging wat ek vir myself gestel het, is om vir al 12 oortreksels, die Moda Marbles-reeks materiale te gebruik, vir al die kleur appliek en voering. Dus is net die agtergrond, die kwiltrug en die organsa nie deel van die Marbles-reeks materiale nie. Tans wag ek vir 'n kleurkaart vanaf VSA, sodat ek nie hoef te sukkel om my kleure te kies vir elke oortreksel nie.

Terwyl ek vandag bietjie rondgery het (ek kry min kans hiervoor, omdat ons een motor het, en my man konstant op die pad is) het ek 'n draai gemaak by my gunstelling Rotti-verkoper. Rotti bestaan uit 'n dun lagie gebraaide deeg, gevul met 'n klomp souse. Die souse wat Didier voorberei is 'n botterboon-sous, garnale-sous en dan natuurlik rissie-sous. Didier was gaaf genoeg om my toe te laat om van hom 'n foto te neem terwyl hy my rotti's voorberei het.




Wat ook vreemd is, vir ons Suid-Afrikaners, is die stalletjie. Kan jul sien dat sy stalletjie is agter-op sy motorfiets? Dis hoe meeste mense hier hul goed vervoer en verkoop. Ander het wel stalletjies langs die pad, en die gelukkige mense het 'n winkel.

Ek wil graag aan Astrid, (Grandma's Red Needle) my vriendin en "quilting buddy", baie dankie sê. Sy is die persoon wat konstant aan my die voorstel gemaak het, dat ek 'n blog moet skep. Ek was eers bietjie skrikkerig, maar sy het daarop aangedring, en ek is bly sy het. Astrid, dankie dat jy my geïnspireer het!

Groete vir eers!

Elzaan

Tuesday 20 July 2010

Hallo en Welkom!

Hallo en welkom - aan myself, maar ook aan julle, die lesers.

Hierdie "blog" is geskep vir die volgende redes:
  • Ek wil graag my kwilt projekte en hul vordering met julle deel
  • Mauritius is 'n eiland met baie wonders, en nie almal van julle sal die geleentheid kry om hierdie eiland in persoon te kan besoek nie. Dus, deel ek graag my ervaring met julle - al is dit nie 'n plaasvervanger vir "the real thing" nie.

Kom loer gereeld in om te sien hoe my projekte vorder, en hoe die eiland Mauritius homself aan my openbaar...

Groete vir eers!

Elzaan